Op 23 April 2025 vier ons Wêreldboekedag, ‘n dag wat die voordele van lees beklemtoon, veral wanneer dit by kinders se ontwikkeling kom. Hierdie dag herinner ons aan hoe belangrik dit is om kinders die geleenthede te bied om hul leesvaardighede te ontwikkel en die liefde vir boeke aan te moedig.
Lees en breinontwikkeling: Bou van die fondasie
Raar maar waar – feite oor kinders wat lees:
- Lees bevorder breinontwikkeling – Navorsing toon dat lees die brein van kinders help om nuwe verbindings te vorm. Elke keer as ‘n kind lees, word nuwe netwerke in die brein geaktiveer wat later hul vermoë om probleme op te los en kreatief te dink, verbeter.
- Lees help om aandag en konsentrasie te verbeter – Kinders wat gereeld lees, kan dikwels beter in die klas fokus en konsentreer. Dit help hulle om langer op take te fokus en met groter doeltreffendheid aan aktiwiteite deel te neem en dit af te handel. Studies dui daarop dat lees, veral wanneer dit op ‘n daaglikse basis gedoen word, kinders se konsentrasie verbeter – iets wat vir die res van hulle lewens voordelig sal wees.
- Verhoog emosionele intelligensie – Boeke wat handel oor verskillende mense, hul kulture, gewoontes en omstandighede help kinders om empatie te ontwikkel. Dit leer hulle om ander se perspektiewe te verstaan en bewus te wees van gevoelens – iets wat nie net in die klaskamer nie, maar ook in die samelewing belangrik is.
- Woordeskatuitbreiding- Kinderboeke bied ‘n wonderlike manier om nuwe woorde aan te leer, wat kinders se woordeskat help uitbrei. Dit is nie net belangrik vir lees nie, maar ook vir hulle vermoë om met ander te kommunikeer en hul gedagtes duidelik uit te druk. Studies het bevind dat kinders wat meer lees, dikwels beter kommunikasievaardighede het.
- Boeke as ‘n opvoedkundige hulpmiddel – Lees is nie net vir ontspanning nie. Dit speel ‘n groot rol in die uitbreiding van ‘n kind se kennis. Boeke bied ‘n manier om nuwe konsepte aan te leer, die wêreld beter te verstaan, en hulle kennis van tale, wetenskap, wiskunde en geskiedenis op ‘n prettige manier te verbreed.
- Lees die Bybel – Kinders wat vaardig is in lees, kan die Woord van die Here ook met gemak lees. Die grootste geskenk wat enige kind kan ontvang is om die Here te leer ken vanuit sy Woord, deur dit self te lees.
Lees as lewenskompas en venster na die wêreld
‘n Interessante feit oor lees is dat dit kinders selfs kan help om beter besluite in die lewe te neem. Deur die lees van die Bybel sowel as verhale van ander mense se ervarings en keuses, leer kinders hoe om hulle eie keuses te maak en die gevolge daarvan te verstaan.
Kinders wat gereeld lees, is dikwels meer ontspanne en gefokus. ‘n Studie het getoon dat lees help om stres te verlaag en kinders te laat ontspan. Dit is ‘n gesonde manier om die gemoed te verbeter, wat weer voordelig is vir die emosionele welstand van kinders. Lees bied vir kinders ‘n blik in ander mense se lewens, neem hul na ver lande en laat hul in die veilige ruimte van hul eie huis opwindende avonture beleef.
Lees is nie net vir ontspanning nie, maar dit is ook ‘n wonderlike manier om kinders se horisonne te verbreed en selfvertroue te bou. Deur goeie opbouende boeke te lees, leer hulle nie net nuwe dinge nie, maar hulle raak ook vertroud met nuwe idees, karakters, en kan so ook ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing vorm. Dit is ‘n wonderlike manier om hulle op te voed en voor te berei vir die wêreld rondom hulle.
By Dirk Postma begin lees met die Woord
By Gereformeerde Skool Dirk Postma weet ons hoe belangrik dit is om kinders die liefde vir lees aan te leer. Hier leer hulle al van kleins af om die Bybel te hanteer, die Bybelboeke te vind en te oefen om die moeiliker Bybelse woorde te kan lees en verstaan. Deur lees aan te moedig, help ons hulle nie net om slimmer te wees nie, maar ook om empatie, kreatiwiteit, en die vermoë om ander te verstaan, te ontwikkel. Lees is meer as net ‘n aktiwiteit – dit is die sleutel tot ‘n onmeetbare wêreld vol wysheid en kennis.
Bronne:
National Literacy Trust, How Reading Benefits Children The Benefits of Reading for Children’s Emotional Development, Child Development Institute