Die nie-neutrale karakter van Gereformeerde skoolonderwys

Mense gee dikwels verskillende antwoorde op die vraag wat Gereformeerde onderwys eintlik is. Aangesien die woord gereformeerd o.a. ‘n voortdurende terugkeer na God se onfeilbare Woord beteken, funksioneer die Skrif hier ook as uitgangspunt om die vraag te beantwoord.

Uit Deut. 6:1-14, Ps. 78:1-8 en gedeeltes uit Spreuke, is dit duidelik dat God ouers (nie die staat) verantwoordelikheid vir die opvoeding van Sy verbondskinders gee. Ooreenkomstig die belofte van ouers tydens die doop, is hul verplig om hul kinders ‘in die genoemde leer’ te onderrig en te laat onderrig.

Die primêre opvoedingsdoel is om ‘boompies’ (Ps. 144:12) te kweek wat in alles op die eer van die HERE gerig is en wie se hoop op Christus en Sy voltooide werk van regverdigmaking en heiligmaking gestel is. Kortom, volwassenes wat in ‘n lewe-gewende verhouding met Christus staan om as helder ligte in ‘n donker wêreld te skyn.

In die vroeë sestigerjare van die vorige eeu het Gereformeerde ouers besef dat dié tipe onderrig nie deur staatbeheerde skole in Suid-Afrika, verskaf kan word nie. Tuisskoling was vanweë die tegnologiese vooruitgang en die akademiese eise wat daarmee gepaard gaan, vir ‘n hele aantal van dié ouers nie moontlik nie. Vervolgens het hulle in gemeenteverband, ‘n ouerskool opgerig wat deur ‘n ouervereniging bestuur word.

Van meet af aan is die Gereformeerde skool beskou as ‘n verlengstuk van die ouerhuis en ‘n hulpmiddel vir die opvoeding van die verbondskinders, wat deur die doop in die gemeente van Christus ingelyf is. Die driehoek gesin, kerk en skool vorm ‘n eenheid waardeur die kerkgemeenskap aan die opvoedingsverantwoordelikheid gestalte gee. Daarom dra ander gemeentelede ook (finansieel) by om dit te realiseer.

Gedurende die afgelope jare is daar verskeie ander Gereformeerde skole opgerig wat onder die seënende Hand van die Here met veel vrug arbei. Gereformeerde skole neem nie die ouers se verantwoordelikheid oor nie, maar staan die ouers in hul Godgegewe opvoedingstaak by.

In ‘n Gereformeerde skool is die verbondskinders in eerste instansie leerlinge en onderwysers mede-opvoeders en nie slegs fasiliteerders nie. Leerkragte is geroep om God se Woord by die kinders in te skerp. Dié tipe skoolonderwys begin reeds op kleutervlak en eindig eers wanneer geloofsvolwassenheid bereik is. Gereformeerde onderrig berei ‘soldate’ voor vir die stryd wat tussen Lig en duisternis heers (Ef. 6 :10-18).

Gereformeerde onderwys is geloofsopvoedend van aard en nie bloot kennisoordrag nie. Verstandelike en sedelike vorming vind plaas deur onderwysers wat hul roeping verstaan en leerinhoud nie as ‘n doel op sigself beskou nie. In alle vakgebiede word God se weldade in skepping, onderhouding, verlossing en heiligmaking deur die leerkragte onderrig en vergestalt. Sodoende word kinders vir ‘n ewige toekoms met Christus voorberei.

In ‘n Gereformeerde skool heers liefde, omdat Christus se voorbeeld nagevolg word. Onderwysers as gesagdraers, word deur ouers en leerlinge met respek bejeën. Die jong koninkryksburgers word behoedsaam behandel, gedissiplineer en betig. Leerlinge word aangemoedig om sorgvuldig met mekaar om te gaan en nie hul eie eer te soek nie. Die Christelike kultuur is alles beheersend en sigbaar vir die wêreld.

Die belangrikste ‘vakgebied’, die Skrif, bestaan uit Bybelonderrig, Geloofsleer, Lewensoriëntering (Etiek) en Kerkgeskiedenis. Verbondskinders sing Psalms met oorgawe en memoriseer gepaste Bybeltekste en ken die betekenis daarvan. Daaglikse Bybelverhale verlewendig God se omgang met Sy kinders; Sy handeling in die geskiedenis word geaksentueer. Dit voeg waarde toe in harte van jongelinge, in die besef dat God geloof skenk.

Gereformeerde skole neem vakinhoudelike besluite en neem eienaarskap van die handboeke. Waar moontlik stel hulle, in samewerking met die Instituut vir Christelike Onderwys, self handboeke saam vir elke vak. Immers, leerlinge moet meer aangaande God se werke van skepping, wetmatigheid en onderhouding te wete kom en leer om tussen goed en kwaad te onderskei.

Nog nuus