Dirk Postma bergfietsspan trap dat die biesies bewe

Die Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma se bergfietsspan neem hierdie jaar aan die landswye Cycle Lab se bergfietswedrenreeks deel.

Cycle Lab Series

Dirk Postma se span bestaan uit sewe ryers uit graad 8-10. Elke Dinsdag en Donderdag is dié kranige ryers hard aan die oefen om seker te maak dat hulle die nodige fiksheidsvlak bereik.

Volgens hul afrigter, Johan de Klerk (‘n oud-Dirkie) oefen die span ongelooflik hard. Oefening behels onder andere ook ritte in die berg en ongeveer 100 km op ‘n Saterdag in. “Alhoewel ons span minder ryers as die ander skole het, is die gees en toewyding ongelooflik goed en maak dit ons span een om van kennis te neem,” sê Johan.

Johan is self ‘n provinsiale bergfietsryer en is ‘n UCI-gekwalifiseerde afrigter.

Coach Johan & Kaptein Cobus
Kaptein Cobus

Cobus Hagg is as die kaptein van die span verkies en het onlangs die skool by Cycle Lab se prestige kapteinarmband-aand verteenwoordig.

Tydens die funksie het die spankapteine van regoor die provinsie amptelik hul armbande ontvang en is die wedrenreeks amptelik geloods.

Divan Pouwels, Marius Visser, Hendrik Albasini, Wian van der Veen, Herman Labuschagne, Barend Putter en Jano Putter trap ook saam in die span.

Die span se eerste wedren vind plaas op 20 April 2024 by Prime View in Olifantsfontein, gevolg deur verskeie ander – meer inligting is beskikbaar op die 2024 resies kalender.

Baie sterkte met die liga, die Dirkies staan agter julle en skree hard “hou bene hou!”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui