As daar Psalms gesing word tydens saalopening, hoor mens duidelik die musikale sopraanstem van juffrou Petra van Heerden bo die ander uitstyg. Met ‘n oupa en ‘n ouma wat deel was van die “Psalmsinging Crowd”, en ‘n musiekonderwyseres ma wat haar lewe lank orreliste was, kan dit nie anders nie.

Haar loopbaan het begin by ‘n hoërskool in Fochville waar sy vir drie jaar lank Bybel gegee het. Sy het daarna in 1987 met die ontstaan van die Gereformeerde Skool Dirk Postma, begin klas gee vir graad 1 en 2. Die skool het begin met 49 kinders wat in drie klasse verdeel was. Graad 1 en 2 in een klas, graad 3 en 4 saam in ‘n klas by mevrou Thea Hooghiemstra, en graad 5 by meneer Willie Lourens. Al die klaskamers was in die binneplein van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar, en die personeelkamer was in die biblioteek.

Die hele skool (1987)

Sy onthou nog die eerste saalbyeenkoms waar al die ouers teenwoordig was, en hoe beïndruk sy was dat die ouers eens was dat sy as hoërskoolonderwyseres vir die graad 1 en 2’s sou klas gee.
“Die geloof van die ouers met die ontstaan van die skool sal my altyd bybly,” sê sy.

Graad 1 en 2 (1987)
Juffou Petra. Agter van links: Arnold Eilers, Leon-Paul vd Wetering, Christiaan Drijfhout, Marius Boerrigter, Maurits Hagg, Sietse vd Meulen. Voor van links: Martin Boersema, Jaco Boersema, Carla v Lochem (Drijfhout), Christina Bakker, Ineke vd Wetering (Hagg). Afwesig: Jurien Eilers

Daar was aanvanklik geen kurrikulum en geen skoolboeke. Juffrou Petra vertel dat hulle by naburige skole hierdie inligting moes kry, en boeke by Perskor aangekoop het. In 1990 het sy swanger geword met haar eerste kind, en het vir 5 jaar opgehou met skoolgee. Sy het egter in 1996 weer by die Dirk Postma-span aangesluit, en het vir die graad 6’e Bybel, Afrikaans, Natuurwetenskap, Noord-Sotho en Geskiedenis gegee. In 2000 het sy net die vak Bybel begin gegee, en onlangs begin om ook Kerkgeskiedenis aan te bied.

Thea Hooghiemstra, Petra van Heerden, Willie Lourens,
proffesor M. Dreckmeyer (ARSO), Ybie Schuring

Vir juffrou Petra was daar baie hoogtepunte in haar 30 jaar by Dirk Postma. In die beginjare was daar ‘n kersprogram deur die kinders opgevoer wat vir haar baie spesiaal was, en sy onthou die boeresport wat by die Pioniershuisie gehou is waar pa’s, ma’s, oupa’s en ouma’s teenwoordig was. Haar klas wat by haar kom oorslaap het sal sy nooit vergeet nie.

Kinders wat by hul juffou kuier
Tydens ‘n uitstappie

In 1998 is die huidige skoolgebou in gebruik geneem, en altwee haar kinders het hul skoolloopbane hier voltooi.
Vir iemand wat so lief is vir kinders, was al die uitstappies, konserte, veldskole en feesvieringe om die skool se bestaan te herdenk waarlik ‘n hoogtepunt gewees.

Dit is vir juffrou Petra ‘n riem onder die hart “as oud-leerlinge na my toe kom en sê: Juffrou, ons kan nogsteeds die Bybelverhale onthou wat juffrou vir ons in die Laerskool vertel het en ook die Psalms wat ons in die klas geleer het, en as elke ouer aan die einde van die jaar elke onderwyser persoonlik kom bedank het vir die jaar se harde werk. Ons skool groei, en daarin kan ‘n mens die seën van die Here sien.”