Ouerskap is ‘n groot seën en dit gaan gepaard met baie geleenthede en uitdagings. Beide ouers en onderwysers vat hande om hierdie uitdagings en geleenthede in belang van die ontwikkeling van die kleuter te hanteer.

Die belangrikheid van speel vir klein kinders, peuters en kleuters kan nie genoeg beklemtoon word nie. Soms word daar van kleuterskole verwag om reeds van ‘n vroeë ouderdom formele skryf- en tekenaktiwiteite met die kleuters te doen. Die resultaat daarvan sou dan ‘n aanduiding van die kind se intelligensie gee. Soms adverteer kleuterskole ekstra Wiskunde-klas en selfs Robotika wat hulle vir die kleuters aanbied.

Dit is egter belangrik om te onthou dat kleuters eerstens leer deur te speel. Hulle gaan beslis ‘n voorsprong in die lewe hê, as hulle op hul eie, langs en saam met maats en met volwassenes kan speel. Speel bied vir kinders ‘n platvorm vir leer. Kinders kan die wêreld om hulle ondersoek, ontdek en ervaar en op die wyse nuwe kennis bekom. Speel is ‘n spontane interaksie tussen kinders en van onskatbare waarde vir ‘n kind se ontwikkeling.

 

Dirkies leer speel-speel
Dirkies speel om te leer

Tydens speel ontwikkel vaardighede wat kinders vir formele leer benodig. As die kleuters leer om ‘n bal goed te vang of op die klimraam te klouter, word die spiere voorberei om in gr 1 vir langer ure op ‘n stoel te sit. Balvang en fietsry help om te kan onderskei tussen vêr en naby. Rolspel, fantasiespel en gestruktureerde binne- en buitespel is weer ‘n platvorm vir sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling.

‘n Kind se huislike omgewing is sy eerste kennismaking met speel en leer. Dag-tot-dag-aktiwiteite leer die kind van basiese Wiskunde-konsepte, byvoorbeeld om die tafel te dek en die borde en eetgerei te tel. Fynmotoriese- ontwikkeling vind plaas as die kinders moet fyn vat om eetgerei te hanteer. Kommunikasie oor die voorbereiding van die ete, lei tot die ontwikkeling van spraak en taal. Speel in die bad met verskeie speelgoed kan konsepte, soos dryf en sink op ‘n informele wyse bekendstel. Betrek jou kinders by die huis en speel saam!

By Dirkieland maak ons elke dag seker dat die kleuters leer deur speel en speel om te leer.