Op 14 November 2023 is mev Saskia Meijer deur die lede van die Dirk Postma Skoolvereniging as skoolhoof van die Gekombineerde Skool Dirk Postma (kleuter, laer- en hoërskool) bekragtig.

Dit volg nadat die vorige skoolhoof, mnr Erik Visser, en sy gesin in Augustus na Kanada geïmmigreer het om daar werksaam te wees. Die soeke na ‘n nuwe skoolhoof was ‘n lang en intensiewe proses.

As skoolgemeenskap kan ons werklik daarvan getuig dat God voorsien en roep, op Sy tyd en op Sy manier. En dit is goed so. Mev Meijer het dit onomwonde tydens die ledevergadering beklemtoon:”…Ek wil dit benadruk dat ek werklik oortuig is dat die Here my vir hierdie taak geroep het, ek is oortuig dat Hy my hand vat en my sal toerus hiervoor.”

Saskia Meijer

Mev Meijer is ‘n Dirkie in murg en been en verstaan gereformeerde onderwys ten diepste. Sy was self vanaf 1996 by Dirk Postma betrokke (eers as aflos onderwyser en vanaf 2000 as onderwyser in verskeie fases). Al vier haar kinders het aan Dirk Postma gematrikuleer en so was sy as ouer ook betrokke by die skool. In 2013 is sy aangewys as laerskoolhoof, waarna sy in 2014 die belangrike taak van die ontwikkeling en uitbou van die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO), vroeër bekend as ARSO, behartig het.

Dit is dan ook die verbintenis tussen die verskeie gereformeerde rolspelers wat haar na aan die hart lê. “Hierdie werk kan ook net gedoen word in samewerking met ‘n geloofsgemeenskap, wat begin by my liewe man asook ons kinders wat my ook hierin ondersteun en bemoedig, asook deurleefde yweraars vir gereformeerde onderwys. Enkele name wat ek wil uitsonder wat in hierdie opsig vir my kosbare mentors is, is prof Paul Kruger, mev Greet de Vries en mnr Rob van der Kooy.”

“Hierdie geloofsgemeenskap strek ook verder, ook julle wat vanaand hier sit as lede, onderwysers en ander personeel, dit is ons almal se skool, ‘n skool wat ons moet koester en bewaak vir die nageslag, sodat ons die opdrag van Psalm 78 mag uitvoer,” het sy beaam.

Meijer het verder ook genoem dat die rol wat die skool in die ontstaan van ARSO (later die ICO) en AROS gehad het iets is om te koester en verder uit te bou.  Vir die afgelope 10 jaar het die ICO se take ook uitgebrei en speel hulle landswyd, in openbare sowel as onafhanklike skole ‘n mooi rol. Om al die gereformeerde rolspelers saam te kry om ‘n langtermyn volhoubare oplossing vir die voortbestaan en verdieping van gereformeerde onderwys te vind, is ook iets waarvoor sy haarself beywer. GSDP het ‘n lang geskiedenis in die aktiewe uitlewing van gereformeerde onderwys  en is tans die grootste gereformeerde skool in Suid-Afrika. “My langtermynvisie is om weer GSDP se familiebande met die verskillende rolspelers in Gereformeerde onderwys te verdiep en te versterk. Ons het mekaar baie nodig in ‘n wêreld waar daar toenemende druk op Christelike onderwys is.”

Hoe gaan sy DV in 2024 die nuwe skooljaar afskop? “Ek is vanaf 2 Januarie op GSDP se terrein en as skoolhoof op die stoepe besig om verhoudings met die kinders, onderwysers, ander personeel en ouers te bou sodat hier ‘n geborge omgewing kan wees waarin GSDP kan groei en gedy. Dit lê nie net gesetel in die skoolhoof nie, dit is soos ek genoem het ‘n span wat in geloof hierdie opdrag moet uitvoer.”

Ter wille van ons nageslag wat Skrifgefundeerde onderwys moet ontvang, moet ons te midde van uitdagings volhard.