Deur: Annaliz Fouche

Ek is seker dat almal al gehoor het van die Krugerhuis en die Kunsmuseum en Sammy Marx se huis in die ooste van Pretoria.

 

 

Maar – ek kan my kop op ‘n blok sit dat nie een enkele een van julle al gehoor het van die Engelenburghuismuseum nie. In die hartjie van Pretoria is een van ons grootste juwele, weggesteek onder die Uniegebou.

 

 

Die Engelenburghuismuseum is gebou in 1903, deur Dr Frans Vredenrijk Engelenburg (1863 – 1938). Soos julle in die foto kan sien lyk dit soos ‘n ou Kaap-Hollandse huis, maar daar is klomp verskille wat duidelik wys dat dit nie is nie.

 

Daar is 2 geuwels en nie drie nie. Een geuwel is voor die ander en dus is daar nie perfekte simmetrie nie. Daar is ‘n stoep met ‘n dak, en die stoep gaan nie reg rondom die huis nie.

 

Die huis het ‘n kelder en nie ‘n solder nie. Hierdie huis het eerder vreeslik baie Nieu-Renaisance kenmerke.

 

Ek is seker dat die vraag wat nou op elkeen se lippe is, is wie was hierdie dr. Engelenburg en hoekom is sy huis ‘n museum?

 

Daardie vraag sal aan die einde van die berig beantwoord word.

 

 

Begeleide toere deur die welbelese toergids, Mnr Christo Rabie, wat onder andere ook gids was by Smutshuis en die Voortrekker Monument, kan bespreek word by die Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) wat toevallig deur dr. Engelenburg gestig is. Oorspronklik was dit die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, gestig in 1909. Vandag deel die Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) die erf van die museum en is die ingang van die museum by die nuwe gebou van die Akademie wat in 2019 ingehuldig is.

Die museum en die Akademie hou verband aangesien dr. Engelenburg sy huis aan die Akademie nagelaat het.

 

Die Akademie vir Wetenskap en Kuns is bekend vir die literêre pryse onder meer die Hertzogprys “en ander prestigepryse, asook akademiese en geleentheidspublikasies, die werk van sy Taalkommissie rondom die standaardisering van Afrikaans, en ook die talle

vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur lede van die Akademie opgestel en gepubliseer is” soos volgens hulle webwerf https://www.akademie.co.za/.

 

Terug na die museum – vroeg in die vroeër jare, toe Italië nog vas aan Afrika was, was daar lae en lae modder. Na ʼn ruk het die modder kliphard geword en mense het begin om die klipharde modderklippe te gebruik as bakstene—ook bekend as skalie. Engelenburg was een van hierdie mense wat eko-vriendelik gebou het, met klippe en stene uit die omgewing.

 

Een van die belangrikste vertrekke van enige huis is sekerlik die kombuis, want wat is die eerste ding wat mens doen as jy na skool by die huis kom? Mens stap mos altyd na die kombuis en sê: “Mamma ek is honger – wat kan ek eet?” Nou kom ons begin by die

kombuis. Daar is ʼn branddeur wat so groot en swaar is en baie dikker as ‘n gewone deur, die koesyne is so verskriklik dik vir as daar ʼn brand sou uitbreek dat die hitte en vlamme so lank as moontlik gekeer kan word, voor dit na die res van die huis versprei. Jy moet net aan die regte kant van die deur wees.

 

ʼn Interessante feit is dat die kelder in die huis na Engelenburg se status verwys. Hy het een van die eerste huise in Pretoria gebou wat ‘n kelder gehad het wat vol wyn was. Vandag is daardie wyn egter opgedrink en nou word die kelder as ‘n stoorplek vir die skoonmaker

gebruik.

 

Kom ons gaan na die badkamer toe. Ek is seker julle ouma het al vertel dat toe hulle klein was moes hulle water in emmers aandra en in sulke groot sinkbaddens bad. Wel hierdie huis was luuks, want hierdie badkamer het ‘n bad gehad wat ingebou is in die vloer met ʼn hout

deksel bo-op die bad wat kan oop en toevou. Die huis het ook ’n dreineringstelsel gehad, want die badwater het by die prop uitgetap. Die teëls is ingevoer van Majorka af. Een van die eerste wonings in Pretoria met ‘n badkamer, alhoewel daar nie ander ablusiegeriewe in

die huis was nie.

 

Die huis vertoon vreeslik baie van die oorspronklike meubels en skilderye. Wat egter verlore geraak het, was van die linne en die kombuisgereedskap. Daar is onder meer ‘n slaapkamer, studeerkamer, eetkamer, ontvangslokaal en dan ‘n pragtige vertrek wat dr.

Engeleburg vir sy vrou aangebou het.

 

In die eetkamer is daar ‘n klomp portrette van Engelenburg se voorsate en familiegeskiedenis asook twee portrette van Engelenburg se ouers. In die middel van die tafel is die mooiste bakkies wat van Delft gemaak is.

 

Nou vir die vraag – wie is Engelenburg?

Hy is ʼn man wat van Holland afgekom het in 1889. Hy het sy Phd in regte aan die Universiteit van Lenin verwerf, maar op die einde was hy die hoofredakteur en later eienaar van die De Volkstem, ‘n koerant waar hy berigte in Afrikaans geplaas het, nog voordat daar ‘n Bybel in Afrikaans beskikbaar was. Hy het op verskeie gebiede ‘n belangrike rol

in Suid-Afrika gespeel en ook in Afrikaans. Onder andere was hy ‘n raadgewer vir president Paul Kruger, hy was ‘n voorvegter vir Afrikaans en het ‘n belangrike bydrae gelewer in die ontwikkeling van Afrikaanse taal en literatuur. Hy het op verskeie komitees en rade gedien, soos die Raad van die Staatsbiblioteek en die Raad van die Universiteitskollege van Transvaal (vandag se Tuks).

 

Sy ouers het vreeslik baie baklei en het glad nie oor die weg gekom nie. Hulle is ongelukkig later geskei. Daar word vermoed dat dit as gevolg hiervan is dat hy so lank gevat het om te trou, want hy was reeds 62 jaar oud. Hulle was 7 jaar getroud en toe het sy vrou

doodgegaan. Hy het ʼn jaar later van hartseer, kinderloos gesterf.