Om seker te maak dat jy nie ons belangrike opdaterings misloop nie en dat beelde korrek vertoon, voeg asseblief ons e-posadres [email protected] by jou veilige senderlys of witslys in jou e-posinstellings. Klik hier om hierdie nuusbrief aanlyn te lees.

Die nie-neutrale karakter van Gereformeerde skoolonderwys
Henria Stolper

Mense gee dikwels verskillende antwoorde op die vraag wat Gereformeerde onderwys eintlik is. Aangesien die woord gereformeerd o.a. ‘n voortdurende terugkeer na God se onfeilbare Woord beteken, funksioneer die Skrif hier ook as uitgangspunt om die vraag te beantwoord. 

Uit Deut. 6:1-14, Ps. 78:1-8 en gedeeltes uit Spreuke, is dit duidelik dat God ouers (nie die staat) verantwoordelikheid vir die opvoeding van Sy verbondskinders gee. Ooreenkomstig die belofte van ouers tydens die doop, is hul verplig om hul kinders ‘in die genoemde leer’ te onderrig en te laat onderrig.

Die primêre opvoedingsdoel is om ‘boompies’ (Ps. 144:12) te kweek wat in alles op die eer van die HERE gerig is en wie se hoop op Christus en Sy voltooide werk van regverdigmaking en heiligmaking gestel is. Kortom, volwassenes wat in ‘n lewe-gewende verhouding met Christus staan om as helder ligte in ‘n donker wêreld te skyn.

Waarom kinders moet lees – en dit geniet!
Saskia Meijer

As deel van my werk kry ek so baie te doen met kinders wat nie van lees hou nie. Hoe maak ons hul lief vir lees? Uit ondervinding het ek geleer dat ouers wat sorg dat boeke vanaf ‘n baie jong ouderdom ‘n integrale deel van hul kinders se lewe vorm, hul kinders makliker oortuig van die lekkerte van lees.

Die toepassing van leesvaardighede is natuurlik legio. Voordat jy ’n nuwe speletjie kan speel, moet jy die reëls lees, voordat jy ’n projek, stokperdjie of tydverdryf aanpak, moet jy kan lees. Jy moet kan lees om ‘n resepteboek te gebruik of om jou volgende vakansie te beplan. Om te kan uiteet moet jy ‘n spyskaart kan lees en voordat jy ‘n kontrak teken, moet jy die inhoud lees en verstaan.

Gawe van die Here
Die wonder van taal in al sy fasette is ‘n gawe wat ons van die Here ontvang het. Hy het dit ook beskik dat sy Woord in ‘n geskrewe vorm aan ons gegee is. Om kinders toe te rus met leesvaardighede is dus van onskatbare waarde vir hul geestelike vorming. ‘n Kind wat kan lees kan die Bybel lees en kan die Here reg leer ken soos Hy Homself in sy Woord openbaar.

Ek is trots, maar waarop?
Mnr Johann Snijder
Hoërskoolonderwyser

Ons gebruik dikwels die woord "trots" in ons daaglikse gesprekke sonder om daaroor na te dink. Ons sê dinge soos: "Ek is trots op my sportprestasies" of "Ek is trots op my goeie punte." As ouers sê ons dikwels: "Ek is trots op my kind se prestasies." Maar wat beteken trots werklik in 'n Christelike konteks? Kan ons trots wees sonder hoogmoed? Ja, Christelike trots is nie selfverheerliking nie, maar dankbaarheid en erkenning vir God se werk in ons lewens. Dit is nie 'n trots wat op onsself fokus nie, maar op Hom wat alles moontlik maak.

Viering van Hervormingsdag 2024

Op 31 Oktober het Gereformeerde Skool Dirk Postma saam met Gereformeerde Skool Johannes Calvyn met groot dankbaarheid Hervormingsdag in GK Die Kandelaar gevier. Hierdie spesiale dag herdenk die begin van die Protestantse Hervorming en herinner ons aan die belangrike geloofsbeginsels van genade, geloof en die Woord van God.

Die dag het begin met ‘n samekoms waar almal saamgesing en gebid het. Leerders van GSDP het ‘n uittreksel opgevoer uit die produksie, Uit diep van donker nagte, geskryf deur Ina Opperman, wat die verhaal van die Hervorming lewendig gemaak het. Die gehoor het met samesang deelgeneem, en Marius Visser ‘n graad 9 leerling, het ons diep geraak met sy meesterlike uitvoering van Bach se Toccata & Fugue in D Mineur op die orrel.

Mnr. Wiku van Rooyen het uit Psalm 27 gepreek en ons, net soos Calvyn, herinner om God se aangesig te soek in alle omstandighede. Die kinders het ook meer geleer oor Martin Luther en hoe sy optrede die kerk verander het.

Hervormingsdag is ‘n pragtige herinnering aan ons geloofserfenis en inspireer ons om, soos Luther, met moed en oortuiging die waarheid van God se Woord te bly volg. Dit herinner ons ook aan die genade en liefde wat ons vrylik ontvang het en ons roeping om ons naaste te dien.

Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer!

Sport by Gereformeerde Laerskool Dirk Postma: Om talente te ontwikkel en die Here te verheerlik
Karyna le Roux

‘n Ouer, sportorganiseerder en kinderkinetikus

Dit laat ‘n mens se hart warm klop as jy aan die einde van ‘n jaar ‘n briefie kry wat lui: “Tannie Karyna, dankie vir al die sport(s) hierdie jaar.”  Dan weet ‘n mens dat die kinders darem die sport by die skool geniet het. Ongeag of hulle wen of verloor. Ongeag of hulle oor Olimpiese-potensiaal beskik of regtig net vir die pret kom deelneem om hulle gawes te ontwikkel. ‘n Mens hoop en vertrou dat hierdie genieting van sport wat hulle by die skool beleef, hulle sal aanmoedig om lewenslank aktief te bly. Want dit is wat ‘n skool eintlik moet bereik met sport. Lewenslange fisiek-aktiewe kinders met ‘n liefde vir beweeg en probeer.

Dit is baie hartseer dat die boodskap wat in vandag se tyd na kinders uitgaan, een is van “net die bestes mag probeer” en “net as jy hoë hoogtes in sport gaan bereik, word jy in aanmerking geneem vir die span.” Of selfs “net as jou ouers genoeg geld het vir professionele afrigting en duur toerusting is jy geregtig op sportdeelname”.

Nie alle kinders gaan die atletiek wen nie en nie almal gaan die beste speler in die hokkiespan wees nie. Maar alle kinders kan sport geniet. En alle kinders kan fiks word en hulle gawes ontwikkel. Almal mag ten minste probeer! En wat van die outjies wat nie noodwendig oor die potensiaal beskik nie, maar wat wel die deursettingsvermoë, dissipline en wilskrag het?

Die doel met sport by Gereformeerde Laerskool Dirk Postma is om toe te sien dat leerders die gawes wat hulle van die Here ontvang het, ontwikkel en deel met ander. Hier wil ons gebalanseerde, goed ontwikkelde kinders opvoed om óp en langs die sportveld, hulle naaste lief te hê, die Here te dien en navolgers van Jesus Christus te wees. Hierdie doel word alleenlik bereik deur goeie samewerking tussen die onderwysers, afrigters, ouers en kinders. Ons wil op die ou end ook op die sportveld ons verbondskinders die woorde van die Here inskerp na aanleiding van Deut. 6:7: “Jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan”. Ons kinders moet dus by hulle huis, by die kerk en by die skool onderrig word om die Here, hulle God, lief te hê met hulle hart, siel, verstand en al hulle kragte.

Sport kweek goeie dissipline, deursettingsvermoë en volharding by kinders. Dit leer hulle om saam met ander mense in ‘n span te werk, om geduldig met mekaar te wees en om hard te werk.

Verder wil ons toesien dat elke kind die geleentheid kry om deel te neem na hulle vermoë en om hulle te leer dat wen nie die hoogste doel van ons sportbeoefening is nie. Die doel van sport by Gereformeerde Laerskool Dirk Postma is dus om elke kind die geleentheid te bied om, as Beeld van God, in geheel te ontwikkel. Ons wil verbondskinders voorberei om uit te gaan in die wêreld en met die gawes wat die Here hulle geskenk het, getuies te wees van die wonderdade van die Here. Ons wil ook ‘n liefde vir sport by kinders kweek sodat hulle aktiewe, fikse volwassenes kan wees wat ‘n aanwins vir die samelewing is.

Dirkies help ’n ander

Dirkies help ’n ander is was ’n omgee-projek van die hoërskool. Leerlinge kon vanaf Augustus tot einde November nie-bederfbare produkte skool toe neem. Kratte is voor in hulle klasse geplaas waarin hierdie produkte geplaas kon word. Die produkte is dan aan behoeftige persone in die skoolgemeenskap uitgedeel.

In Oktober het die Dirkies hul harte verder oopgemaak. Die hoërskoolleerlinge en personeel het vir 160 leerlinge van die Ramotse Naskoolsentrum in Hammanskraal 'n geskenksakkie uitgedeel. Ds Herens Nkoane, die predikant van die Gereformeerde Kerk Ramotse in Hammanskraal doen groot opheffingswerk daar en GSDP ondersteun graag sy projekte. So word ons kinders ook geleer om naasteliefde te betoon aan medegelowiges.

Barend die Arend sorg vir groot opgewondenheid by die graad 1’s

Gereformeerde Skool Dirk Postma het ’n splinternuwe skoolverteenwoordiger gekry. Sy werk is om opgewondenheid en lewenslus te kweek, wat hy reeds met oorgawe doen. Hy doen dit deur ook net ʼn arend te wees.

Barend die Arend herinner ons dan met elke verskyning aan die teksvers agter op sy rug: Jes. 40:31. As ons op onsself of enigiets anders sal vertrou of vir enige iets ander lewe as net vir die HERE, gaan ons moeg word, "... maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie."

Jolene Botma in graad 8 het die prys gewen vir die mees kreatiewe naam vir ons skoolverteenwoordiger.

Kerkgeskiedenis: 'n Splinternuwe Boek vir Jonk en Oud

Op 17 Oktober 2024 het die Gereformeerde Skool Dirk Postma met dankbaarheid die bekendstelling van 'n splinternuwe boek vir die vak Kerkgeskiedenis gevier, getiteld Kerkgeskiedenis: Vir jonk en oud (30-500 AD). Hierdie boek, geskryf deur ds. Pieter en Jenny Boon, is die resultaat van 'n twee jaar lange projek wat daarop gemik was om die kurrikulum vir Kerkgeskiedenis te herskryf en dit meer relevant en interessant vir leerders te maak.

Volgens Saskia Meijer, die skoolhoof van Gereformeerde Skool Dirk Postma, is Kerkgeskiedenis van groot belang, aangesien dit kinders help om te verstaan hoe Jesus Christus sy kerk deur die eeue bewaar het. Die herskrywing van die handboek het 'n lewendiger benadering gebring, met verhale wat die geskiedenis op 'n toeganklike manier vertel. Die nuwe boek bevat verhale wat geskik is vir laerskoolleerders, sowel as vir ouer studente en volwassenes.

Meijer het tydens die bekendstelling beklemtoon dat die nuwe benadering 'n hoë akademiese standaard nastreef, met 'n groter fokus op diepte eerder as op wydte. Dit verseker dat wat geleer word, deeglik vasgelê word, terwyl daar ook ruimte is vir hersiening en interessante projekte.

Wiku van Rooyen, 'n onderwyser by GSDP, het die belang van hierdie vak soos volg opgesom: "Ons leer hoe Christus sy kerk beskerm en onderhou, en die geskiedenis openbaar die wysheid en getrouheid van God. Kerkgeskiedenis help leerders om die verlede te verstaan, en dit bring betekenis aan die hede."

Die kommissie, onder leiding van Meijer, het Jenny Boon genader om haar talent vir storievertelling te gebruik, terwyl haar man, ds. Pieter Boon, belangrike historiese feite en verdieping verskaf het. Die boek is deur 'n diverse groep proeflesers gelees, wat wissel van jong leerders tot bejaardes.

Die boek, uitgegee deur Fontein Uitgewers, is tydens die bekendstelling beskikbaar gestel en is ook by Boekenhout in Pretoria beskikbaar. Dit is die eerste van 'n reeks wat uiteindelik uit vier volumes sal bestaan en die geskiedenis van die kerk dek van die jaar 30 n.C. tot vandag. Graad 4 tot 12 -leerders van GSDP sal vanaf 2025 hierdie boek in die vak Kerkgeskiedenis gebruik.

Koop die boek hier.

Hulpfonds bring hoop

In reaksie op die onlangse inkrimping van departementele subsidies aan onafhanklike skole, het die Gereformeerde Skool Dirk Postma ’n hulpfonds gestig. Die doel van die fonds is om finansiële bystand te bied aan gesinne wat as gevolg van onvoorsiene omstandighede sukkel om volle skoolfooie te betaal.

Die hulpfonds beoog om gesinne by te staan in gevalle soos ernstige siekte, verlies aan inkomste weens afsterwe, werksverlies, of ander krisisse wat hul vermoë om onderwys te bekostig, benadeel. Ouers kan aansoek doen vir hulp, wat dan deur die skool se finansiële kommissie oorweeg word volgens riglyne in die finansiële beleid.

Die inkrimping van subsidies het die skool se vermoë tot barmhartigheidsdiens beïnvloed, aangesien minder fondse beskikbaar is om verlaagde tariewe te dek. Hierdie hulpfonds is dus ’n belangrike stap om te verseker dat elke gesin toegang tot verbondsonderwys behou en om die gemeenskap te ondersteun tydens moeilike tye.

Dra hier by tot die skool se hulpfonds.