Om seker te maak dat jy nie ons belangrike opdaterings misloop nie en dat beelde korrek vertoon, voeg asseblief ons e-posadres [email protected] by jou veilige senderlys of witslys in jou e-posinstellings. Klik hier om hierdie nuusbrief aanlyn te lees.

Ons vertrou dat dit die begin van vele sal wees. Hierdie nuusbrief wil anders wees as ons gewone twee-weeklikse Info. Waar die Info fokus op die dag-tot-dag bedrywighede wil die gereelde nuusbrief aan lede, vriende, alumni, ouers, onderwysers en leerlinge iets meer vertel oor die waarde van Gereformeerde onderwys en oor die wel en weë van Gereformeerde Skool Dirk Postma. Ons wil ook hier vertel van die Here se seën en sy wonderdade in die voortbestaan van ons skool.

So ‘n nuusbrief is nie nuut vir GSDP nie, vanaf die beginjare was daar "By die Waterstroom" asook ander blaadjies wat meer van die skool vertel het. Hierdie nuwe nuusbrief is dus ‘n hervatting van die mooi tradisie wat reeds by ons skool teenwoordig was.

Om ‘n artikel vir hierdie eerste uitgawe te skryf het ek dit goed gedink om so bietjie op die spore terug te gaan. Daar is al baie mooi artikels op verskeie platforms oor Gereformeerde onderwys geskryf. Belangrike inhoud wat dalk oor jare verlore gegaan het, inligting wat ons gerus kan afstof en weer vir die jonger generasie aanbied.

Een so ‘n artikel dateer uit die Kerkblad van 1983. Dit is geskryf deur prof J.L. vd Walt. GSDP het nog nie eers bestaan nie, toe is hier al deeglik oor Gereformeerde onderwys nagedink.

Prof vd Walt vra of ons ‘n Christelike skool sal herken as ons so ‘n skool teëkom. Die vraag na die eienskappe van so ‘n skool is al meermale geopper. By GSDP woon die onderwysers tans die kursus: Boustene vir Christelike Normatiewe onderwys, by. Hier word ook nagedink oor die eienskappe van so ‘n skool.

Prof vd Walt waarsku tereg dat ons maklik met ‘n stortvloed van woorde, moete en moenies, so-ja’s en so-nie’s dink ons beskryf die eienskappe van die skool, maar dan bly dit net ‘n klomp mooiklinkende woorde op papier. Hy gaan dan verder en poog om wel ‘n lys op te stel en dit kortliks te beskryf. Dit wat hy reeds in 1983 neergepen het is volgens my steeds net so relevant vir ons eie skool. Prof vd Walt gebruik telkens die woord Christelik, ek voeg Gereformeerd in hakies by en pas die inhoud aan by die hedendaagse Dirk Postma.

Skrifgefundeerd:
Dit behoort die uitstaande kenmerk te wees, selfs in sy fisiese voorkoms. Op die hoofingang van die skool wat Calvyn in 1559 in Genève opgerig het was daar drie Bybeltekste aangebring. Hierdie tekste was as’t ware die Credo van die skool. Al die ander werksaamhede soos leerinhoude, metodiek, dissipline ens. moet getuig van hierdie fondament.

Handel Skrifmatig:
Alles wat hier gebeur kan aan die eise van die Skrif getoets word.

Op God gerig:
Die Christelike skool staan in ‘n verbondsverhouding met die ware God wat Hom in die Bybel aan ons geopenbaar het. Dit is dus ‘n egte skool soos alle ander skole, maar ook ‘n ware skool, want dit wil in verbondsverhouding met God staan

Gee opvoedende onderwys:
Die oordrag van kennis en vaardighede is belangrike fasette, maar by GSDP wil ons verder gaan en ook die volgende waardes leer naamlik Godsaanskouing, mensbeskouing en skeppingsbeskouing. So word die kinders toegerus om volkome te wees, vir elke werk volkome toegerus 2 Tim 3:16 en 17.

Het ’n meelewende christelike ouergemeenskap:
Die skool as samelewingsverband is deur die ouers opgerig en behoort aan die ouergemeenskap. ‘n Belangrike eienskap van GSDP, wat bekend staan as ‘n ouerskool, is dat die ouers in elke opsig van die skool betrokke is. Verder beteken dit ook dat die hele ouerkorps gelowiges is, hulle staan ook in ‘n verbondsverhouding met God.

Staan in die gees en rigting van Christelike (Gereformeerde) ouerhuise:
GSDP is ‘n verlengstuk van die Christelike (gereformeerde) ouerhuis.

Is Christelik (Gereformeerd) in elke faset en bedrywigheid:
‘n Uitstaande kenmerk van GSDP is die vakke Bybel en Kerkgeskiedenis asook die aanleer van die Psalms. Ons Christelikheid is egter nie beperk tot hierdie vakke nie, dit kom in elke vak en elke bedrywigheid van die skool na vore. Elke vak wat aangebied word, bied die toerusting aan die kind waarvan daar in Timotheüs gepraat word.

Het Christelike (Gereformeerd) onderwyspersoneel:
Elke onderwyser en ondersteuningspersoneel is as’t ware met die hand deur die bestuur uitgesoek. ‘n Bestuur wat nougeset hieroor toesig hou. Die personeel is ‘n bepalende faktor in die behoud van die Gereformeerde identiteit.

Het ’n besondere verhouding met die Christelike (Gereformeerd) kerk
Die ouers het ‘n doopbelofte afgelê, en die opvoeding in die huis moet daarmee ooreenstem. Ouers waak dus oor die opvoedende onderwys van die skool, dit moet ooreenstem met die doopbelofte. Daar moet ‘n besondere verhouding wees tussen die kerk en die skool, maar dit is nie ‘n verhouding van oorheersing nie. Die skool mag nie verkerklik word nie.

Staan in ’n besondere verhouding met die staat:
Die staat moet aan die Christelike (Gereformeerde) skool ruimte verskaf om te bestaan en te gedy. Skool en staat is twee afsonderlike samelewingsverbande en die een mag nie oor die ander heers nie. Die skool weer gevaarlike staatsideologieë uit die skool. Verder streef hul daarna om nie slegs te voldoen aan die minimum eise wat die staat stel m.b.t. standaarde nie, maar meer, om sodoende ook by te dra tot die volkome toerusting van die kinders, ook wat betref hul roeping as ‘n landsburger.

Met hierdie lysie wat uit 1983 dateer kan ons steeds Gereformeerde Skool Dirk Postma in 2024 toets. Voldoen ons aan al hierdie eise? Nee, ons doen nie. Ons moet voortdurend reformeer, ook in ons wese as Gereformeerde skool. Mag die Here aan ons wysheid gee om getrou te bly aan die eise wat Hy in sy Woord stel, ook as ‘n skool.

Mev. Petra van Heerden is 'n naam wat sinoniem geword het met toewyding en geloof in die Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP). Sedert die skool se ontstaan in 1987, het sy 'n integrale rol gespeel in die vorming en groei van die skoolgemeenskap. Vandag dien sy steeds as die geliefde Bybel juffrou, wat generasies van leerders met haar wysheid en liefde inspireer.

Mev. Van Heerden onthou die opwindende beginjare van GSDP met groot deernis. "Die eerste indrukke was die geloof waarmee die ouers die skool in 1987 begin het," sê sy. "Ons het net klaskamers en skoolbankies gehad. Hier was geen onderwyserslêers, sillabusse of boeke vir kinders nie. Ons personeel moes dit maar self aanskaf en ons eie sillabusse saamstel." Hierdie pioniersgees en sterk gemeenskapsband het die grondslag gelê vir 'n suksesvolle onderwysinstelling.

Een van mev. Van Heerden se kosbaarste herinneringe uit die vroeë dae van die skool is die gemeenskapsaktiwiteite. "Ons het nie atletiek destyds gehad nie. Almal het op 'n Saterdagoggend met kampstoele by Silverton Pioniersmuseum bymekaargekom en daar is saam gekuier. Die kinders het almal aan Boeresport deelgeneem en F.A.K.-liedjies vir die ouers en oupas en oumas gesing," vertel sy met 'n glimlag. Hierdie eenvoudige maar betekenisvolle geleenthede het die gemeenskapsgees versterk.

Mev. Lientjie Drijfhout is 'n gewaardeerde onderwyseres by Hoërskool DP, waar sy Bybel en Wiskunde onderrig. Wat haar storie besonders maak, is die familieverbintenis met die skool wat oor generasies strek. Mev. Drijfhout is een van die eerste matriekleerlinge wie se dogter, wat tans in graad 9 is, ook die skool bywoon. Haar ma, Henria Stolper, was een van die eerste onderwysers by Hoërskool DP, en haar skoonma, mev. Alieske Drijfhout, was tot verlede jaar deel van die personeelkorps.

Mev. Drijfhout se herinneringe aan haar tyd by die skool is deurspek van nostalgie. Sy het nie haar basiese skoolonderrig by die Gereformeerde Laerskool DP ontvang nie, maar by die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn. “Ek was altyd bewus van DP omdat ons atletiek en netbal teen mekaar gespeel het,” verduidelik sy. Sy het al vroeg geweet dat sy na Hoërskool DP sou gaan, aangesien haar ma daar gewerk het en die vakke aangebied het wat sy self aanbied. Aanvanklik was sy nie opgewonde oor die idee om weer in ‘n kleiner skool te wees nie, maar sy het die ervaring later waardeer.

In die beginjare het Hoërskool DP in die Kandelaar kerk se vierkant begin, met eenvoudige fasiliteite. “Die fasiliteite was baie eenvoudig – geen groot sportbane of lokale nie. Maar ons het steeds baie geniet en die skool het soos ‘n familie gevoel.” Die skool het sedertdien gegroei, maar die kern van geselligheid en gemeenskap het altyd gebly.

Janine Heikens, sportorganiseerder by Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma, het ‘n insiggewende gesprek gevoer oor die uitdagings, suksesse en toekoms van sport by die skool. Sy het ‘n passie vir sport en ‘n verbintenis tot die holistiese ontwikkeling van leerlinge deur sportdeelname.

Janine beklemtoon dat elke kind wat aan ‘n sportsoort deelneem aanmeld met die vaardighede, talente en gawes wat die Here gegee het, met hierdie vaardighede, talente en gawes moet hulle ook meeding. Wanneer die leerlinge besef dit is geskenke wat hulle van die Here ontvang het, dan neem hulle ook met groot toewyding deel.

‘n Belangrike aspek van enige sportgeleentheid is die voorbereiding. Leerlinge word deur oefeninge voorberei, maar ons moet ook die terrein sowel as die toerusting voorberei. Volgens Janine het ons pragtige fasiliteite, maar die beperkte spasie bied soms ‘n uitdaging by die reël van tuisbyeenkomste .

Emily Maleka se naam is sinoniem met toewyding en vriendelikheid by Gereformeerde Skool Dirk Postma. Vir die afgelope 26 jaar het sy as 'n skoonmaker by die skool gewerk, en vir haar is die skool meer as net 'n werkplek – dit is soos een groot familie.

Met haar warm glimlag en onwrikbare werksetiek, het diepgaande bande met die kinders en onderwysers van die skool gevorm. “Ek geniet dit om elke dag saam met die kinders en onderwysers te werk,” vertel sy. “Die kinders maak die skool lewendig. As hulle nie daar is nie, voel dit nie reg nie.”

Die verhaal van Emily se tyd by die skool is vol van kleinerige, maar betekenisvolle oomblikke. Sy het baie tyd spandeer om baadjies en kosblikke wat verlore geraak het, te soek. “Sodra ek dit kry en aan die kind wil teruggee, sê hulle dikwels dat hulle ma al ‘n nuwe een gekoop het,” lag sy. “Ek en ’n juffrou het al oorweeg om ‘n tweedehandse winkel te begin en die fondse vir die skool te gebruik,” spot sy.

As nuutverkose voorsitter van Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) vanaf 2024, is een van Mnr. Klaas Pouwels se eerste prioriteite om die rol en werksaamhede van die bestuur (of beheerliggaam) korrek te verstaan en uit te voer. “’n Sterk bestuurspan ondersteun my in hierdie taak,” sê Pouwels. Een van sy hoofdoelwitte hierdie jaar is om die skool se getalle met gereformeerde kinders te laat groei, meer lede en vriende te werf, die begroting te laat klop, en seker te maak dat die beleide en reglemente in orde is. Hy wil ook verseker dat die hoof en haar bestuurspan ondersteuning kry sodat hulle hul werk na die beste van hul vermoë kan doen en die kosbare kinders gereformeerd kan opvoed.

Die skoolbestuur werk baie nou saam met die skoolhoof en onderwysers om die skool se missie en visie te bereik. Pouwels verduidelik: “Ons werk deur baie noue samewerking, gereelde kontak en persoonlike huisbesoeke by elke onderwyser. Die skoolhoof woon elke bestuursvergadering by en gee tydens die vergaderings deeglike terugvoer oor elke element van die kleuter-, laer- en hoërskool.”

Die Gereformeerde Skool Dirk Postma het onlangs 'n inspirerende ma-en-dogter-aand gehou met die tema "Blom waar jy geplant is."

Ellie Buys, een van die organiseerders, het insig verskaf oor die geleentheid en die waarde daarvan vir die deelnemers. Ellie verduidelik dat die ma-en-dogter-aand die inisiatief van die skool was. "Ek is nie direk betrokke daarby nie. Die tema: ‘Blom waar jy geplant is’ is ook deur die skool gekies. Ek dink dit is ‘n baie relevante tema vir so ‘n aand, waar veral tienerdogters in hul ontwikkelingsjare besig is om te ontluik soos ‘n blom," sê sy.

Die beplanning en organisasie van die aand was 'n gesamentlike poging. Ellie se skoonsussie, Lientjie Drijfhout, was deel van die komitee wat die aand gereël het. "Ons het saamgekom en idees rondgegooi om vir die ma’s en dogters ‘n betekenisvolle aand te gee: leersaam, maar prakties," verduidelik Ellie. Deur take te verdeel en elkeen se bydrae op eie stoom te ontwikkel, kon hulle 'n suksesvolle en gesinchroniseerde program aanbied.

Mev. Mariëtte de Bruyn is die dryfkrag agter die Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) se koor, 'n groep jong sangers wat al 'n aantal geleenthede gehad het om hul talent te toon. Hier deel ons haar reis met die koor en die impak wat hierdie musikale onderneming op die skoolgemeenskap het.

"Ek het einde van 2021 met die Dirkiekoor begin," sê Mev. de Bruyn. "Ek wou al vandat ek in 2020 by die skool begin het 'n koor stig, maar met Covid is daardie planne bietjie vertraag tot ek einde 2021 net die koor kon begin." Haar passie vir koorafrigting het egter baie vroeër begin, toe sy as student by LS Monumentpark gewerk het en by die kore betrokke was.

Mev. de Bruyn se liefde vir kinderkoorafrigting is diep gewortel. "Ek wou al van kleintyd my eie kinderkoor gehad het. Toe ek by GSDP begin werk het, was daar nog nie 'n koor gewees nie, wat my toe die ideale geleentheid gegee het om daar betrokke te raak."

Op 26 en 27 Julie het die Gereformeerde Skool Dirk Postma hul jaarlikse laerskool-musiekkonsert gehou, met die tema "Terug in Tyd - Van Toeka tot Nou." Hierdie konsert het die gehoor op 'n nostalgiese reis deur die geskiedenis van musiek geneem en 'n onvergeetlike ervaring geskep.

Die opvoering het plaasgevind by Doxa Deo in Môregloed, Pretoria, en was 'n viering van musiek van verskillende generasies. Mev. Mari-Susan van Straten, mev. Arina Linde, mev. Mariëtte de Bruyn en me. Martha de Winter, die skrywers van die konsert, het hul navorsing oor verskeie musiek-eras, insluitend volkspele en boeredanse, in die program ingewerk. Europese danse soos die wals en polka het 'n unieke vorm in Suid-Afrika aangeneem en is deel van die konsert se vertonings.

Die doel van die konsert was om kinders te leer oor ouer saamsingliedjies en die ryk geskiedenis van musiek, en om te wys hoe musiek oor die jare verander het. Die musiekkeuses was toepaslik vir die ouderdom van die deelnemers, en ou liedjies het 'n nuwe baadjie gekry, wat 'n gevoel van familie en samehorigheid geskep het.

Mev. Riekie Smit het al meer as 13 jaar die leiding oor die Laerskool se koerant, Dirkiedinge, en het 'n enorme impak gemaak op die skoolgemeenskap. Onder haar toesig het Dirkiedinge gegroei van 'n droom van 'n joernalis in graad 3 tot 'n geliefde en invloedryke platform vir die leerders om hul stemme te laat hoor.

Die koerant, wat êrens in 2011 onder leiding van Marisha Hermann begin het, het as 'n passieprojek begin. Hermann, wat destyds in graad 3 was, het die visie gehad om 'n skoolkoerant te skep. Sy het berigte geskryf en haar maatjies gemotiveer om ook by te dra. Die koerant se slagspreuk, "'n Koerant vir kinders - deur kinders," weerspieël die doel om nuus en gebeure in en om die skool te deel, terwyl dit ook op opvoeding en vermaak fokus.

Mev. Smit verduidelik dat artikels en inhoud vir Dirkiedinge in twee uitgawes per jaar saamgestel word. Die redaksielede kom self met idees oor waaroor hulle wil skryf, en soms word spesifieke skrywers genader om oor spesifieke gebeurtenisse te berig, soos wanneer ‘n bekende skrywer die skool besoek of tydens uitstappies.