Om seker te maak dat jy nie ons belangrike opdaterings misloop nie en dat beelde korrek vertoon, voeg asseblief ons e-posadres [email protected] by jou veilige senderlys of witslys in jou e-posinstellings. Klik hier om hierdie nuusbrief aanlyn te lees. Laai die PDF-weergawe hier af.

Liewe ouers, personeel, lede en vriende van die skool,

Met dankbaarheid mag ons Nuusbrief nommer twee van 2025 uitgee, ‘n kykie op die lewendige ritme van leer, groei en genade in ons skoolgemeenskap. In hierdie uitgawe kyk ons met verwondering na die hand van God in elke aspek van opvoeding, van wetenskap tot sport, van kleuterskool tot opwindende hoërskoolavonture.

Ons ondersoek wat dit beteken om ’n Christelike wetenskapsbeskouing te hê — dat die bestudering van natuurwetenskap lei tot die ontdekking van God se wysheid in sy Skepping. Hierdie besef rig ons denke en leer, en herinner ons daaraan dat elke formule en natuurverskynsel ’n getuienis is van die Skepper self.

Verder kyk ons na die belangrike roeping van die onderwyser: om self voortdurend onder die Woord van die Here te leef en só toegerus te word om ook vir die leerlinge ’n lewende voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid te wees.

Vanuit die kleuterskool word ons herinner aan die waarde van iets so eenvoudig soos kaalvoete — hoe dit kinders help om hul wêreld met al hul sintuie te ontdek. In die grondslagfase besin ons oor hoe hierdie vroeë jare die boustene lê vir leer wat regdeur tot matriek vrug dra.

’n Graad 5-leerling neem ons op ’n reis deur die geskiedenis van koerante, terwyl die hoërskool-leerlinge wat Nederland besoek het, hul ervaringe en herinneringe van die laaste Sparkle (Orange Maple) uitruilprogram met ons deel. En natuurlik sluit ons ook af met ’n terugblik op ’n opwindende sportseisoen waarin ons kinders met ywer en talent uitgeblink het in netbal, tafeltennis en meer.

Mag hierdie nuusbrief ’n bemoediging wees — ’n blik op hoe God se waarheid en liefde sigbaar word in elke deel van ons kinders se opvoeding.

Met hartlike groete
Saskia Meijer
Skoolhoof

Personeel: Die geloofstaak van die onderwyser by Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP)
Saskia Meijer

Om ‘n onderwyser te wees is nie ‘n maklike taak nie, inteendeel dit is ‘n baie groot gewigtige verantwoordelikheid. Onderwysers by GSDP besef dat hulle aangestel is om die volgende geslag in die weë van die Here op te voed (Ps. 78)

Elke onderwyser wat by GSDP aangestel word is elkeen lid van die liggaam, die kerk van Jesus Christus. Hulle is dus elkeen kind van God wat geroep is om die leerlinge in die leer van die hele Skrif (2 Tim 3: 16 en 17) te onderrig

Om getrou te wees aan hierdie roeping moet die onderwysers wat by GSDP betrokke is uiteraard naby aan die Bybel leef. Die Bybel is die Woord van God, die bron van ons hele denke asook handel en wandel. Prakties beteken dit dat onderwysers moeite moet doen om die Bybel te bestudeer. Persoonlik, by die kerk in Bybelstudiegroepe, maar ook hier by die skool.

Christelike wetenskapbeskouing
Wenny Bouwmeester
Departementshoof Graad 10 - 12

Wat is wetenskap?

Die oorspronklike definisie van wetenskap is om kennis te verwerf. Beoefening van wetenskap vind dus in alle vakgebiede plaas, nie net in natuurwetenskap nie. ‘n Algemene definisie van wetenskap is die volgende: Wetenskap bestaan uit observasie van die wêreld deur kyk, luister, observeer en optekening. (NASA)

Wetenskap is die sistematiese observasie, skepping, analisering en modellering van patrone wat in die fisiese heelal bestaan.

Ons Avontuur in Nederland en Frankryk
Ons Suid-Afrikaners — Marguerite van de Wetering (15), Mia Stidworthy (15), Marné van de Wetering (15), Leané Schmitz (15), Annelie van de Wetering (16), Lisa Griffioen (16) en Charlize van de Wetering (16) — het op 14 Maart 2025 aan 'n uitruilprogram deelgeneem. Ons het almal hierdie avontuur begin met 'n bietjie vrees in ons harte. Ons het bang gewag vir wat voorlê, maar tog het ons die uitdaging aangepak met groot opgewondenheid – veral oor die idee om ons nuwe vriende weer te sien.

Die reis was lank en ons was almal moeg toe ons uiteindelik aankom. Ons het ons gasgesinne ontmoet, en hulle was almal ongelooflik vriendelik en verwelkomend. Hier is 'n paar van die hoogtepunte van ons wonderlike reis.

Fietsry na Ommen
Een van die eerste uitstappies was 'n fietstoer na die dorpie Ommen. Ons het saam met al die deelnemers van die uitruilprogram – die Amerikaners, Stellenbosch-leerlinge en die Nederlanders – hierdie uitstappie aangepak. Dit was eintlik 'n dagkamp om mekaar beter te leer ken.

Ons het sowat twee uur lank fiets gery, maar almal het dit baie geniet. By die kamp het ons speletjies gespeel, geëet, en lekker gesels. Ons het heerlike kroketten en frikandellen geniet. Die program het tot ongeveer twaalfuur geduur. Daarna het ons gaan slaap, en die volgende oggend het ons terug skool toe gery.

'n Dag in Amsterdam
Ons volgende groot uitstappie was na Amsterdam, waar ons onder andere die Anne Frank Huis besoek het. Dit was baie interessant, maar ook hartseer om te sien hoe hulle agter ’n boekrak weggekruip het tydens die oorlog.

Ons het ook This is Holland besoek, ’n toeriste-attraksie met ’n 4D-simuleerder wat jou op ’n virtuele vlug deur Nederland neem. Dit was indrukwekkend om die land vanuit hierdie perspektief te sien.

Parys – ’n Droom wat waar geword het
’n Hoogtepunt van die hele toer was beslis ons uitstappie na Parys. Ons moes baie vroeg opstaan – reeds om drieuur die oggend was ons op die bus. Die busrit self was lekker; ons het musiek geluister, gesels en min geslaap.

Ons eerste stop was die Eiffeltoring – asemrowend mooi! Ons het selfs tot bo geklim en die uitsig oor die hele Parys was onvergeetlik. Daarna het ons die Arc de Triomphe besoek, wat ook indrukwekkend was. Dis ongelooflik om soveel ou geskiedenis te sien, veral vir ons wat van ’n land kom met jonger geskiedenis.

Ons volgende stop was die Louvre, waar ons die bekende glas-piramides gesien het. Ongelukkig het ons nie tyd gehad om in die museum in te gaan nie.

Ons het met openbare vervoer na ons volgende bestemming gereis – die Notre-Dame. Hierdie bekende katedraal is in 1345 voltooi. In 2019 het ’n groot deel van die gebou afgebrand, maar dit is herstel en is nou weer oop vir die publiek.

Ons laaste stop in Parys was by die Sacré-Coeur, ’n Rooms-Katolieke kerk wat in 1914 gebou is. Binne-in die kerk het ons pragtige skilderye teen die dak gesien, sowel as standbeelde en godsdienstige afbeeldings. Dit was vreemd om te sien hoe sommige mense hierdie beelde aanbid.

Daarna het ons almal weer bymekaargekom en terug gery skool toe.

Skool in Nederland
Die skoolstelsel in Nederland is baie anders as by ons in Suid-Afrika. Die skool voel amper soos 'n universiteit, aangesien leerders verskillende tye het waarop hulle by die skool moet wees. As hulle nie klas het nie, hoef hulle nie op die skoolterrein te wees nie.

Kinders begin van ’n jong ouderdom af om self skool toe fiets te ry – hulle is baie meer onafhanklik. Dit was ook vir ons lekker om self fiets te ry; dit het ons meer volwasse laat voel.
Die skoolstelsel deel leerders in verskillende vlakke in volgens hul sterkpunte. Dit help elkeen om op hul eie vlak suksesvol te wees, wat ons baie goed gevind het.

’n Reis om te onthou
Hierdie was een van die lekkerste avonture van ons lewens. Ons het baie geleer oor ander lande en oor hoe mense se gedrag en gewoontes verskil van ons eie.

Ons is almal ongelooflik dankbaar vir die geleentheid om aan hierdie reis deel te neem. Dit is ’n ervaring wat ons altyd sal onthou en koester.

– Die Suid-Afrikaners

Die geskiedenis van koerante
Nina Rust - Graad 5

Lank gelede voor die internet en televisie, het mense hul nuus uit koerante gekry. Die heel eerste koerante is honderde jare gelede gemaak. In die 1600’s het van die eerste gedrukte nuus in Europa verskyn.

Hierdie vroeë koerante was klein en het nie elke dag uitgekom nie. Hulle het belangrike stories oor dinge soos oorloë, konings en handel gedeel.  Mense was opgewonde op dit te lees, want dit was ’n nuwe manier om te leer wat in die wêreld gebeur.

In die 1700’s en 1800’s het koerante meer gewild geword, veral in plekke soos Engeland en Amerika. Hulle het begin om meer bladsye te druk, foto’s by te voeg en plaaslike nuus te dek. Mense het koerante gebruik om oor politiek, sport en weer te leer. Gedurende hierdie tyd het meer mense geleer hoe om te lees, en dit het koerante gehelp om te groei. Sommige koerante is selfs elke dag gedruk, wat destyds ’n groot ding was.

Vandag lees baie mense nog koerante, maar baie het verander. Sommige koerante word op papier gedruk, maar baie is nou aanlyn beskikbaar. Mense kan die nuus enige tyd op hul fone of rekenaars lees!

Al is koerante nou anders, help dit ons steeds om te verstaan wat in ons gemeenskappe sowel as die wêreld aangaan. Koerante kom al ’n lang pad, maar hul doelwit is steeds dieselfde: om belangrike nuus met almal te deel.

Laat jou kleuter toe om kaalvoet te loop
Elske Pretorius
Departementshoof: Kleuterskool

In vandag se moderne wêreld word skoene dikwels as ’n simbool van beskerming, netheid, mode of status gesien. Skoene word grootliks as ’n noodsaaklike deel van veiligheid beskou, sodat wanneer kleuters kaalvoet loop, dit nie meer gesien word as gesond en waardevol vir hulle ontwikkeling nie.

Kaalvoet loop was selfs in die Bybelse tye nie vreemd nie en soms is daar ook ‘n simboliese betekenis aan gekoppel.

In Eksodus 3:5 was dit ‘n simbool van eerbied wanneer God vir Moses sê hy staan op heilige grond en moet sy skoene uittrek. In die Nuwe Testament lees ons dat kaalvoet ook ‘n simbool van nederigheid en diensbaarheid was. In Johannes 3:15 lees ons dat Jesus sy dissipels se voete was en in Jesaja lees ons dat kaalvoet loop ook ‘n simbool van rou kan wees. Dus kan kaalvoet loop ‘n sterk simboliese betekenis hê.

Die Here het die mens so geskape dat elke liggaamsdeel belangrik is. Veral vir kleuters wie se liggaamsdele mooi sterk moet ontwikkel sodat leer kan plaasvind, is die fokus op gesonde voetontwikkeling ook belangrik.  Kaalvoet loop het dus ‘n opvoedkundige waarde waarvan ons bewus moet wees.

Hoe belangrik is die Grondslagfase nou eintlik ten opsigte van goeie matriekuitslae?
Mari-Susan van Straten
Departementshoof Grondslagfase

Vir baie mense lyk dit of die Grondslagfasekinders net speel! Dit is immers hulle “werk”! Ons grade R, een, twee en drie is lekker besig binne en buite die klaskamer; daar word bankies met liniale gemeet, gespeel met blokkies, geverf en geknip en tussendeur gesoek na goggas in die gras. Intussen tolletjiebrei ons en dan is daar nog bak-en-brou ook!

Die buitestaander kan wonder of daar ooit leer plaasvind? Is voorskoolse onderrig ooit belangrik? Daar is mos baie tyd  in die kind se skoolloopbaan om te léér. Dit is belangrik om kennis te dra van die rol wat al hierdie leeraktiwiteite speel in die bou van die fondament wat uiteindelik ook lei tot goeie matriekuitslae.

“Graad R”. Die vreemde benaming vir ons kleuterskoolklas is afgelei uit die woord “reception”. Graad R is dus die aanvangsjaar. Sien dit as ‘n praktyk waar daar drie kantore is naamlik: graad 1, graad 2, graad 3. Om hierdie drie kantore te kan binnekom, te verstaan, die reëls van die kantore te kan volg en om deel te neem aan die gebeure van die kantoor, moet ons eers die “ontvangsdame” nader. Hierdie ontvangsdame help ons om gereed te wees vir wat ons moet weet, voordat ons die kantore binnegaan.

Die Grondslagfase (spesifiek grade R tot 3) bou dus die fondasie wat nodig is tot leer. Teen die tyd wat kinders vakgerigte kennis moet opdoen in grade 4 tot 7, moet hulle reeds weet hoe om te lees, skryf en tel. Sekere “sagte vaardighede” soos om eerbied te toon tydens Bybelles,  te luister wanneer iemand praat, hoe om in groepe te kan werk, en om beurte af te wag word ook aangeleer. Gestel hierdie “kantore” is nie besoek nie, hoe gaan daar op ‘n later stadium in die hoër grade ooit die verwerwing van vakgerigte kennis kan plaasvind?

Die doel van die Grondslagfase in ‘n neutedop:

  1. Die bou van basiese vaardighede
    Die Grondslagfase lê die grondslag of fondasie vir:
    1. Lees- en skryfvaardighede (geletterdheid)
    2. Wiskundige begripsvorming (gesyferdheid)
    3. Leervaardighede soos konsentrasie, luister, geheue.
    4. Sosiale vaardighede (konflikhantering, deel, beurte maak en so meer)
    5. Geestelike vaardighede soos die aanleer van Psalms en die herkenning van Bybelse taal asook vaslegging van Bybelkennis.

    Indien hierdie vaardighede nie goed bemeester is nie, sukkel kinders dikwels in die later grade, wat weer lei tot swak matriekuitslae.
  1. Kognitiewe- en taalontwikkeling
    In die Grondslagfase ontwikkel kinders taalvaardighede wat hul vermoë om instruksies te volg, vrae te verstaan en konsepte te verwerk, beïnvloed.

    Swak taalontwikkeling in die vroeë kinderjare lei tot leerprobleme in die hoër grade. In skole wat spesifiek die IEB-eksaminering gebruik, of kinders wat na tersiêre instansies gaan, is hierdie vaardigheid van kardinale belang.
  1. Navorsing toon dat kinders wat in die Grondslagfase agter raak, dikwels sukkel om in te haal. Die agterstande wat nie vroeg aangespreek word nie, bou op en dit het ‘n negatiewe gevolg in matriek. Die teendeel is ook waar, goeie Grondslagfase-onderrig help kinders om later sterk matrikulante te wees. Die kans op herhaling van grade in ander fases asook skoolstaking, word dus veminder.

Die Departement van Basiese Onderwys se navorsing dui daarop dat verbetering in Grondslagfase-onderrig tot ‘n merkbare verbetering in nasionale matriekuitslae kan lei. Die feit dat Suid-Afrika se wetenskap en wiskunde op skoolvlak die swakste ter wêreld is, moet ons nie laat dink dat ons kinders minder intelligent is nie. Die hoofrede is dat die onderrig in die grondslagfase nie altyd in die kinders se moedertaal is nie. Syfervaardighede word die beste vasgelê in moedertaal.

Prof Barry Richter (voorheen verbonde aan Aros) het in 2017 juis skoolhoofde aangeraai om die beste onderwysers in die grondslagfase aan te stel.  Dit opsigself wys dat die vensterperiode om voorbereiding tot leer te bewerkstellig, goed oopgemaak moet word.
Dus, indien u ‘n goed voorbereide matrikulant verwag, is die beste plek om te begin by ‘n skool met ‘n goed toegeruste Grondslagfase soos by Dirk Postma.

’n Samevatting van die kwartaal se gebeure
Janine Heikens

In die artikel “Ek is trots, maar op wat?” skryf Johann Snijders in Julie 2024 dat Christene die woord trots moet gebruik as erkenning en dankbaarheid teenoor God vir alles wat Hy doen in en deur ons lewens.

In die lig hiervan kan GSDP met dankbaarheid terugkyk op ‘n kwartaal gevul met deelname aan verskeie sportsoorte.

Die Laerskoolnetbalspanne het ingeskryf by SA Skole Netbal en besluit om nie deel te neem aan die skoleliga nie. Onseker oor wat om te verwag het die dogters ywerig begin oefen en vinnig gewys dat hul graag wil speel. Die seisoen is afgesluit met 6 vriendskaplike wedstryde (teen Riviera Primary, Caligro Primary, LS Pierneef, LS Eben Swemmer, LS Boerefort en LS Balmoral) asook deelname aan Eduplex se mini-netbal dag. 

Die Hoërskool netbalspanne het ook hul staal gewys ten spyte van al die vakansie dae en baie reën wat oefening bemoeilik het. Dankbaar kyk hul terug na ‘n mooi seisoen waarin hul hul man gestaan het teen HS Akasia, HS Erasmus, HS Tuine, Curro Roodeplaat, Rietondale High, HS Gerrit Maritz en HS CR Swart. Dirk Postma het gewys dat alhoewel ons ‘n klein skool is, harde werk, motivering en ondersteuning vrugte afwerp en ons kragte kan meet teen groot skole.

Dis nie net die dogters in Dirk Postma wat ons dankbaar maak oor die talente van ons leerders nie. Die Tafeltennisspan het op hul spelerige manier gou gewys dat daar met hul rekening gehou moet word. Die seuns het stil-stil ‘n mooi oorwinning behaal in die Gauteng Noord Skole Tafeltennis Liga C-toernooi. Juffrou Petra vd Veen het behoorlik haar hande vol gehad met die groot groep seuns wat almal kan en wil speel.

Op 31 Mei skop die fietsry seisoen ook af met ses van Dirk Postma se seuns wat deur die jaar getrou oefen om aan die uitdagende sport te kan deelneem. Alhoewel die seisoen nog lank is, presteer die span alreeds goed. Weereens is die skool dankbaar vir borge en ouers wat help om die deelnemers toe te rus met toerusting en klere wat benodig word.

Skaakmat!
Skaak bied die geleentheid om ‘n gesonde verstand deur ingewikkelde denkprosesse verder te ontwikkel.  Hoërskool Dirk Postma is ook dankbaar vir die geleentheid om leerders so te ontwikkel en die geleentheid te kon gee om op 17 Mei deel te kon neem aan die Sunfest Africa spanskaak-kompetisie waarin die vyf leerlinge ‘n vierde plek behaal het.

By die Laerskool oefen die kinders elke Woensdag getrou onder juffrou Martha Strydom se bekwame hande om meesters in skaak te word.

As ons so terugkyk na die tweede kwartaal, is ons nie net “trots” op wat bereik is nie, maar is ons dankbaar vir al die talente wat ons leerders uit God se Hand ontvang. Deelname aan sport is ‘n geleentheid om ook so hul roeping wat die Here vir hulle gegee het, getrou uit te leef.

Snijders, J. 27 Julie 2024. Olielamp / Ek is trots, maar op wat?