Om seker te maak dat jy nie ons belangrike opdaterings misloop nie en dat beelde korrek vertoon, voeg asseblief ons e-posadres [email protected] by jou veilige senderlys of witslys in jou e-posinstellings. Klik hier om hierdie nuusbrief aanlyn te lees. Laai die PDF-weergawe hier af.

Geagte leser

Die jaar snel na sy einde en die Desembervakansie wink met rus, ’n stadiger pas en die voorreg om weer stil te word by die wonder van ons Heiland se geboorte. Jesaja 9:5 herinner ons so treffend: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer; en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” Hierdie welbekende teks verkondig ons hele redding. Wat ’n groot troos dat ons mag weet dat God sy Seun met die volle heerskappy op Sy skouers aan ons gegee het. Mag die ware Kersboodskap, dié van hoop, vrede en ewige sekerheid, jul harte en jul huise vul.

Tussen die feestyd se gewoel, lê daar ook heerlike oomblikke van rus en lees. Ons deel met dankbaarheid hierdie propvol GSDP-nuusbrief, ’n uitgawe waaraan jonk en oud bygedra het, en wat vir u ’n kykie bied in die hartklop van ons skool.
Ons begin met ’n groeteboodskap van mnr. Kaas Pouwels, voorsitter van ons skoolbestuur, wat hierdie jaar met wysheid die leisels gehou het. Vanjaar het ons verskeie beleide hersien, waaronder ons skool se visie en missie. Gewoonlik is dit ’n dokument iewers in ’n lêer en niemand weet regtig wat daarin staan nie. Ons het die dokument afgestof en die lang missiestellings verkort sodat almal dit maklik sal kan onthou. Een van die belangrike aspekte van ons visie en missie is dat ons verbondskinders opvoed. Die skool is die verlengstuk van die huisgesin en help die huisgesin om hul JA by die doopvont te kan waarmaak. Mev Mari-Susan van Straten, ’n ouer én onderwyseres deel ’n besondere mooi artikel hieroor. 

Kunsmatige Intelligensie het wêreldwye gesprekke aangevuur, en ook vir ons is dit ’n belangrike tema. Mev. Carmin Smith, ’n ouer by GSDP en dosent by Aros, het waardevolle navorsing gedoen oor KI binne ’n reformatoriese raamwerk. Ons het haar deeglike akademiese artikel verwerk in ’n toeganklike formaat, beslis die moeite werd om te lees.

Verder vertel mev. Lientjie Drijfhout meer oor haar besoek aan die GESS-tegnologiekonferensie in Dubai, ’n besondere ervaring wat insig bied in internasionale tendense.

By GSDP streef ons na gebalanseerde ontwikkeling, van graad RRRR tot gr 12: akademies, sportief, kultureel en geestelik. Ons kinders neem deel aan sosiale aksies en word betrek by barmhartigheidsprojekte in ons gemeenskap. Die laerskool waag ook hul hand aan ’n oulike koerant, ons deel graag ’n kort stukkie daaruit en vanaf die kleuterskool verduidelik juffrou Elske Pretorius wat die waarde van teken vir die kleuter is.  Hierdie nuusbrief wil graag iets weergee van die kosbare aktiwiteite wat die afgelope kwartaal by ons plaasgevind het.

Blaai gerus rustig deur hierdie uitgawe en kuier saam met ons tussen die bladsye. Ons nooi u ook om vorige uitgawes op ons splinternuwe webtuiste (www.gsdp.org.za) te besoek.
Van my en die hele GSDP-span: ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige 2026. Mag die Here julle bewaar en seën.

Met hartlike groete
Saskia Meijer
Skoolhoof


Ons kyk met diepe dankbaarheid terug op ’n jaar vol genade en sorg — ’n groot seëning uit die Here se hand. Hy het ons nog ’n jaar gedra, gelei en voorsien.
Hartlike dank aan elke onderwyser en personeellid vir jul toewyding, en aan al die verskillende ouerkomitees vir jul harde werk deur die jaar. Julle diens maak ’n tasbare verskil in elke leerder se lewe.

Aan ons matrieks wat hul jaareindeksamens voltooi het: baie geluk en sterkte vir die nuwe lewensfase wat volgende jaar op julle wag. Aan die res van ons leerders: julle eksamens is ook agter die rug, geniet die vakansie en kom met goeie moed en nuwe krag terug om die volgende jaar met ywer aan te pak.

Dankie aan almal wat getrou hul skoolgelde betaal het, asook aan al ons skenkers en donateurs — finansiële én ander bydraes — waarsonder ons nie die jaar finansieel in die groen sou kon afsluit nie. Ons waardeer elke offergawe.

Mag die Here aan almal ’n geseënde Kerstyd en ’n veilige, verkwikkende vakansie gee.

Soli Deo Gloria.

Namens die Bestuur
Klaas Pouwels — Voorsitter

Ek het “ja” gesê
Mari-Susan van Straten
Departementshoof Grondslagfase

Wanneer ’n mens die doopformulier lees, staan jy telkens weer voor dieselfde vraag: Waarvoor het ek daardie dag “ja” gesê? Wat beteken dit regtig om my kinders “in die leer te onderrig” en “te laat onderrig”?

Binne ons Gereformeerde konteks verstaan ons die doop as ’n sakrament, ’n heilige handeling waardeur God self sy verbond met ons bevestig. Die doop is nie ’n mooi simboliek of ’n tradisie nie—dit is God se genadige belofte aan die gelowige én sy gesin. Die “ja” wat ons as ouers uitspreek, is dus nie maar ’n formele instemming nie, maar ’n lewenslange verbondspad.



Hoe behoort Christen-onderwysers oor die gebruik van kunsmatige intelligensie in onderrig en leer te dink?

Carmin Smith

Sedert die ontstaan van die mensdom het tegnologie, as ontplooiing van God se skeppingsmandaat, die wyse waarop ons werk verrig beïnvloed. Dit impliseer dat tegnologie nie op sigself iets is nie, maar eerder ʼn aktiwiteit is waardeur die mens  gehoorsaam aan God moet wees. Ook in die klaskamer het tegnologie die wyse waarop onderrig en leer aangebied word verander. Deur virtuele museumtoere, die gebruik van video’s en klankgrepe, of data- en inligtingstelsels vir assessering en rekordbestuur, word die gehalte van onderrig verbeter. Tegelykertyd kan tegnologie deur die sondige begeertes van die mens ook skadelik wees. Daarom moet ons besin oor die rol van Generatiewe Kunsmatige Intelligensie (GenKI), veral in die sfeer van die onderwys.

Die beskikbaarstelling van GenKI  soos ChatGPT het die onderwyslandskap drasties ontwrig. Hierdie groot taalmodelle kan menslike spraak naboots en selfs “oorspronklike” tekste, beelde en video’s, wat vroeër slegs deur mense geskep kon word, produseer. 

My Toer na die Dubai Onderwys Ekspo & Konferensie
Me. Lientjie Drijfhout

Ek het onlangs die voorreg gehad om GESS Dubai, een van die grootste internasionale onderwys-ekspo’s en konferensies in die wêreld, by te woon. FEDSAS, ’n organisasie wat die belange van skoolbeheerliggame in Suid-Afrika verteenwoordig, het twee onderwysers van onafhanklike skole geborg om hierdie groot geleentheid by te woon.

GESS Dubai fokus op onderriginnovasie, nuwe tegnologie en oplossings vir skole. Die ekspo en konferensie bied die nuutste hulpmiddels en idees vir die klaskamer. Ek het gegaan met die doel om nuwe tegnologie, tendense en praktyke te verken wat onderrig kan verbeter. As onderkonings op hierdie aarde moet Christene ook met oop oë en verantwoordelikheid omgaan met innovasie en tegnologie.

Ons toer het begin met ’n besoek aan twee internasionale skole. Hier is ons rondgelei en bekendgestel aan onderrigmetodes en -benaderings wat in die praktyk konkreet gestalte vind. Ons het tussen die leerders beweeg en klaskamers besoek waar onderrig plaasgevind het. Opmerklik was die atmosfeer wat op die gangmure geleef het — een van betrokkenheid — waar die leerders se leerprosesse ten toon gestel is. Vir my as buitestaander was dit duidelik dat die leerders die kennis wat hulle opdoen, vorm gee en hul eie maak.

Vir die drie opeenvolgende dae het ons die ekspo en konferensie in die hartjie van die groot stad bygewoon. Omring deur hoë geboue, mense van elke denkbare kultuur (aangesien 90% van Dubai se inwoners nie Emiratis is nie), blitsige duur motors en alles wat die oë laat rek, het ek ’n kykie gekry in die onderwysuitdagings wat deur ons almal in die gesig gestaar word.

Daar was verskeie aanbiedings oor KI (AI – artificial intelligence). Dit was duidelik dat KI ’n potensiële gevaar vir onderwys inhou, maar ook ’n groot hulpbron kan wees wat die menslike intelligensie verhoog. Praktiese voorstelle is gedeel oor hoe om dit verantwoordelik in onderwys te gebruik en leerders te begelei in die etiese hantering van hierdie instrument. Kurrikulums vir KI-geletterdheid is reeds ontwikkel en beskikbaar vir gebruik. Daar is ook talle platforms geskep waarmee onderwysers gepersonaliseerde leer vir elke leerder kan fasiliteer met behulp van KI.

Dubai en sy susterstede se fokus is mensgerig. As gelowige wil ek die prentjie wat GESS Dubai skets aanpas en onderwerp aan dit wat God ons leer: alles moet dien om Hom te eer. Ek sien uit om die inligting oor tegnologie en onderwysinsigte met ons skoolgemeenskap te deel en saam te werk tot daardie een doel.


Sport(s) in die derde en vierde kwartaal by Dirk Postma
Mev Janine Heikens

Sport en deelname aan sport in skole gaan hand aan hand. Vandag het die waarde van sport in skole eksponensieel gegroei en ook in ons skool sien ons die behoefte en waarde daarvan raak. Gesonde gebalanseerde sportaktiwiteite bied ’n goeie alternatief vir skermtyd, boonop hou die blootstelling aan oefening baie gesondheidsvoordele in.

Tydens die laaste deel van 2025, het Dirk Postma vir seker nie teruggestaan op die sportveld nie. Getalle is nie noodwendig in ons guns nie, maar die entoesiasme en ywer waarmee ons deelnemers en afrigters onderskeie sportsoorte aanpak, is telkens verstommend.

Die hoërskool-sagtebal het gegroei van “raap en skraap” om ’n span bymekaar te kry, tot twee volledige spanne wat hul staal op die baan gewys het, soms uitdagend, maar beslis in goeie gees.

GSDP hou konsert: Die wêreld agter die skerms
Elrike Buys & Aniek Moes

Laaaaank gelede in ’n klein afgeleë vallei, die Mootvallei, het die leerders van Postmia die groot taak aangepak om ’n toneelstuk voor te berei, met juffrou Isabel, meneer Wiku en sy vrou Marina, wat worstel om die beste uit ons te kry. Die leerders het geswoeg en gesweet, en elke Vrydagmiddag hard gewerk, geoefen, herhaal en soms selfs moed verloor. Vrydae het die dag geword van kreatief wees - elke toneelspeler het self ook aan hulle karakter gebou. Behalwe vir vier leerders, het elke leerder in die hoërskool, asook elke personeellid, deelgeneem aan die konsert – agter die skerms en voor op die verhoog!

Op 8 en 9 Augustus het die produksie uiteindelik op die planke gekom en die karakters kon werklik lewe kry. Vandag gaan ons vir julle dit vertel vanuit die verteller, Elrike, en die gekke nar, Aniek, se oogpunt. Een ding is seker: ons twee weet nou baie goed in watter straat die skool is, want ons moes duisende kere oor Dick, of as jy wil, Dirk en sy seun se pad praat. 

Ek dink by tye het óns dit meer geniet as die gehoor, maar die lekkerste van alles is as jy daar voor staan en jy sien hoe die mense se gesigte ophelder en die kindertjies hulself inleef. Die adrenalienvlakke was hoog en die senuwees het geknaag op die verhoog, maar veral daar waar julle ons nie kon sien nie - agter die skerms - as jy jou hele gewaad in ’n paar sekondes moet verander. Onderbaadjie, sykouse, hakskoene, en so tussen die aantrek deur moet jy die toneel probeer volg sodat jy net op die perfekte tyd kan inkom … "Oooo waar het ek die boekrol nou neergegooi?" Dit was ’n bietjie chaos daar agter, maar dis deel van die pret. Voor julle het ons stemme gebewe en ons knieë geknak… julle kan nogals skrikwekkend wees … as julle gewonder het. 

Op die ou end het almal mooi saamgewerk en ’n baie oulike toneel voorgedra. Queen social, Alisha, het ook self ’n paar broeke laat bewe. Die dansies van die graadgroepe het kleur en opwinding aan die konsert toegevoeg! Tussen al die foute, al die valle, al die skoene wat gevlieg het, het ons dit baie geniet. 

Ons dank die Here dat hy vir ons die geleentheid gegee het om ons talente te gebruik en ’n hele paar glimlagte te vore te bring.

Dirkies se dag van uitreik
Ons leef dikwels in ’n gemaksone. ’n Dak oor jou kop, ’n bord gesonde kos en mooi klere om aan te trek, aanvaar ons as vanselfsprekend. Ons dink baie keer nie eers aan ander wat swaarkry nie, want dit is nie in ons verwysingsraamwerk nie. Liefde vir jou naaste is ’n groot gebod wat die Here vir ons gegee het. Dit is wat ons ook by Hoërskool Dirk Postma wil uitleef. Daarom het die idee ontwikkel om ’n gemeenskapsprojek van stapel te stuur waar ons leerders hul hande uitreik na ander om ’n verskil in hul lewens te maak.

Beplanning het begin, produkte is deur die hele skool ingesamel en op 12 September 2025 het die Graad 8- en 9 leerders van Dirk Postma na vier verskillende organisasies in die gemeenskap gegaan om diensbaar te wees. Tydens die besoeke is die produkte wat ingesamel is, hoofsaaklik klere, speelgoed en skoonmaakmiddels, ook oorhandig.

Matriekafskeid 2025
Jeanne le Roux

Met die aankoms by die matriekafskeid was almal gespanne. Die meisies was bekommerd oor hoe om op hul hoëhakskoene te stap, en gaan die ander ook met hul blomme stap? En aan watter kant van die kar moet hulle sit? Die seuns was bekommerd oor hul vervoer na die “after-party” toe …

Een vir een het die unieke karre van klomp verskillende kleure aangery gekom, daar was ’n gejuig toe die deftige matriekleerlinge uit die voertuie tree. Die meisies het almal mooi gelyk, met ’n rok wat by elkeen se persoonlikheid pas. Die seuns het netjies gelyk, met ’n pak wat by elkeen se metgesel se rok pas.

Toe die versnaperings bedien word, voordat die matrieks die saal binne kon gaan, was daar reeds klagtes oor seer voete onder die meisies en warm lywe onder die seuns. In die saal was skoene vinnig uitgeskop tydens die vermaaklike ysbreker. Die ys was gebreek deur klomp plaasdiere en ballonne wat almal saam bind.

Voordat die heerlike kos voorgesit is, het almal eers hard saam gelag oor die video van die matrieks se ontgroening. Nadat ons heerlike geëet het, was Heinrich Goodey, Junelle Miske, juf. Saskia en juf. Mariaan aan die woord, waarna die matrieks elkeen ’n geskenk ontvang het.
Dit was ’n baie mooi en lekker aand wat ons vir ewig sal koester, ’n perfekte manier om van die skool en van mekaar afskeid te neem.

Die graad 10's se opvoedkundige toer
Anke Venter

Ons as Graad 10's was baie bevoorreg om 12 – 19 September 2025 op ’n opvoedkundige toer na Durban toe te reis.

Vanaf graad 8 sien ons al baie uit na hierdie toer en het ons al fondse begin insamel.

Ons toer het begin by Bloedrivier, waar ons ’n toer bygewoon het oor die Boereoorlog en geleer het wat daar gebeur het.

Die aand het ons in ’n Ossewa-laer geslaap wat ’n replika van die oorloglaer was. Ek dink daardie aand het ons baie goeie insig gegee oor waarin die Voortrekkers moes slaap en ek kan met eerlikheid sê dat ek dink nie veel van ons sou daardie toestande kon verduur nie, nie na al die stories wat ons gehoor het na die aand nie.

Daarna het ons aangekom by Bergventure in die Drakenberge waar ons na ’n voëlskou gekyk het, vêr gaan stap het, in poele geswem het en net rustig tyd in die natuur spandeer het.
Na so twee aande het ons vertrek na Mooihawens toe, waar ons die volgende vyf dae spandeer het.

Ons het elke dag uitgery na plekke wat ons kon besoek o.a. Oribi Gorge en Ushaka, waarvan Ushaka vir seker ’n hoogtepunt was. Die strand op Mooihawens was gesluit, dus het ons sommer op pad na die besoekpunte langs die pad gestop en gaan swem. Op ons laaste dag het ons spanbou op die strand geniet en die dag afgesluit met Tenpin Bowling. Ons is dankbaar dat geen ernstige beserings opgedoen is nie.

In die oggende en aande het ons Bybelstudie gehou, gelei deur Ds Marten Boersema en Mnr Johann Snijder, die tema van die toer was Die Koninkryk van God.

Sonder Juf. Petra en Juf. Carli sou hierdie toer nie moontlik gewees het nie. Hulle het ons altyd met geduld en liefde hanteer, al het ons dit nie altyd maklik gemaak nie.

Elke dag van hierdie toer het ons iets geleer, nie net in die algemeen nie, maar ook oor God. Ons kon Sy pragtige natuur aanskou en die vreugde van vriendskappe ervaar.

Hierdie toer was nie net vol pret en ervaringe nie, dit was vir ons as graadgroep, as medegelowiges ’n geleentheid om mekaar dieper en beter te leer ken, sterk bande te bou en by mekaar te leer.


Nina Rust: Graad 5

Ons deel graag ’n berig vanuit Dirkiedinge, ons Laerskool se koerant. Mev Magdaleen Venter en haar span het weereens ’n pragtige koerant saamgestel wat sommer vir ure se lees en woordpret sorg. Ons is trots ons eie koerant!

Die jaar van babas
Ons almal weet dis lente – die seisoen van nuwe lewe, diere, kleurvolle blomme en vars groen gras. Maar wat party mense dalk nie weet nie, is dat ons skool ook ’n bietjie lente-koors het!
Dis waar! Vyf van ons juffrouens het pas babas gekry!

Juffrou Lizarie, Juffrou Sasha-Lee, Juffrou Mart-Mari, Juffrou Elani en Juffrou Minette het almal klein bondeltjies vreugde bygekry.

Dis amper asof daar oral in die gange sagte babageluide en glimlagte ronddwaal! Ons wens al hierdie gelukkige juffrouens baie sterkte en liefde toe met hul nuwe, piepklein klaslede.
Mag hierdie lente vir hulle vol slaap, glimlaggies en stories wees wat hulle vir altyd gaan onthou.

Naskrif: mnr Wiku van Rooyen en sy vrou is op 26 November ook geseën met die geboorte van klein Lukas.

Die noodsaaklikheid van teken by kleuters
Elske Pretorius

Kleuters is nuuskierig en leergierig. Net soos hulle buite in die sand en water speel en ontdek, eksperimenteer hulle ook met kryte wanneer hulle teken. Terwyl hulle ontdek wat daar gebeur wanneer ’n kryt in alle rigtings op papier beweeg, vind daar ontwikkeling plaas tussen die hand en die brein. Dus ontwikkel daar noodsaaklike vaardighede wat bemeester moet word voordat formele onderrig kan begin.

GSDP se nuwe webwerf is hier – jou poort na ons gemeenskap!

Gereformeerde Skool Dirk Postma is verheug om die bekendstelling van ons opgegradeerde webwerf aan te kondig! Die nuwe platform is van nuuts af ontwerp om ’n gerieflike toeganklike inligtingsbron te bied.

Wat kan jy verwag?
Navigeer moeiteloos met ons intuïtiewe uitleg en vind blitsvinnig presies waarna jy soek. Ontdek 'n omvattende oorsig van GSDP se ryk geskiedenis, kernwaardes en die onderskeie afdelings – hoërskool, laerskool en kleuterskool – elk met volledige inligting oor skoolure, vakkeuses en aktiwiteite.

Nuusbriewe en belangrike kennisgewings is nou net 'n kliek weg. Onderwysers kry ook hul eie spasies om vakkundige artikels, hersieningsmateriaal en nuttige hulpbronne te deel.

Nuwe kenmerke wat jou verbind:

  1. Gemeenskapsforum – 'n Lewendige bymekaarkomplek vir die Moot-gemeenskap om besighede, diensaksies en getuienisse te deel
  2. Alumni-blad – Netwerkgeleenthede, die Ambassadeurprogram en maniere om terug te ploeg
  3. Grootouerblad – Sluit aan by die Erfeniskring, ontvang uitnodigings na spesiale geleenthede en ontvang e-kaarte van kleinkinders
  4. Jong gesinne-blad – Vraag-en-antwoord, onderwyserinligting, inskrywingshulp en ouerskapshulpbronne
  5. Sakegemeenskapsblad – Inligting oor besigheidsontbyte, borgprogramme en netwerkgeleenthede
  6. Internasionale ondersteunersblad – Bly verbind met 'n wêreldkaart, virtuele geleenthede en aanlyn boodskappe

Besoek vandag nog ons nuwe webwerf en ervaar hoe GSDP meer toeganklik en gemeenskapsgerig as ooit is!