Janine Heikens, sportorganiseerder by Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma, het ‘n insiggewende gesprek gevoer oor die uitdagings, suksesse en toekoms van sport by die skool. Sy het ‘n passie vir sport en ‘n verbintenis tot die holistiese ontwikkeling van leerlinge deur sportdeelname.
Janine beklemtoon dat elke kind wat aan ‘n sportsoort deelneem aanmeld met die vaardighede, talente en gawes wat die Here gegee het, met hierdie vaardighede, talente en gawes moet hulle ook meeding. Wanneer die leerlinge besef dit is geskenke wat hulle van die Here ontvang het, dan neem hulle ook met groot toewyding deel.
‘n Belangrike aspek van enige sportgeleentheid is die voorbereiding. Leerlinge word deur oefeninge voorberei, maar ons moet ook die terrein sowel as die toerusting voorberei. Volgens Janine het ons pragtige fasiliteite, maar die beperkte spasie bied soms ‘n uitdaging by die reël van tuisbyeenkomste . “Ons beskik nie oor al die fasiliteite van groot skole nie, dit maak dit dus soms moeilik om alles te kan aanbied wat ons graag wil. “Ons beskik ook nie altyd oor alle toerusting nie, maar ons goeie verhoudinge met ander buurskole maak dit moontlik dat ons soms van die duur toerusting mag leen. Dit help baie,” verduidelik sy.
Sy gesels gereeld met leerlinge om hul sportvoorkeure te bepaal. “Ons doen baie moeite om te luister waarin hulle belangstel. Omdat ons ‘n klein skool is, is ons sportkeuses soms beperk. As hulle iets noem wat hulle graag wil doen, begin my huiswerk – is dit geskik? Gaan dit pas by die skool? Wat is die koste?” Hierdie benadering verseker dat die sportprogramme relevant en interessant vir die leerlinge is.
Janine beklemtoon die belangrikheid van uithouvermoë en toewyding in sport. “Wat ek agtergekom het, is dat deursettingsvermoë ‘n vaardigheid is wat baie geoefen moet word. Die leerlinge is aan die begin van ‘n seisoen baie entoesiasties, maar dan taan die entoesiasme. Leerlinge wat deur die loop van die seisoen ‘n groei in deursettingsvermoë op die sportveld ervaar, is gewoonlik die leerlinge wat in die klaskamer ook groei in hierdie vermoë begin toon.
Hoewel sy nog nie lank betrokke is by die skoolsport nie, deel sy dat die ware sukses vir haar die vreugde en entoesiasme is wat leerlinge na ‘n wedstryd ervaar. “Positiewe deelname, die opgewondenheid en die ontwikkeling van die kind is vir my van die belangrike uitkomste van enige sport. Ons moet die leerlinge bewus maak dat God die gawes gee, maar dat ons wel op ‘n gedissiplineerde wyse hierdie gawe moet oefen sodat dit goed ontplooi kan word.”
Goeie toerusting is onontbeerlik vir enige sport. “By ons skool samel ons fondse in, doen ‘n beroep op die ouers en maak kreatiewe planne om te sorg dat die leerlinge wel die geleentheid het om met goeie toerusting die sportsoorte te beoefen. By GSDP is een van die Skrifgefundeerde waardes wat ons aan die leerlinge leer die waarde van rentmeesterskap. Alles wat ons hier op aarde tot ons beskikking het om te groei en te ontwikkel het ons van die Here ontvang. Ons leerlinge word dan ook geleer om dit mooi op te pas en dit met respek te gebruik.”
Sy gebruik ‘n oop en eerlike benadering om leerders aan te moedig om aan sport deel te neem. “Ek gesels baie met die leerders. As ek hoor dat hulle in sport belangstel, nooi ek hulle uit om een keer te kom probeer of net te kyk. Sodoende word die sport ook aan die onsekeres bekendgestel.”
Sy beklemtoon die belangrikheid van sport in die algemene opvoeding en ontwikkeling van leerlinge. “Dit leer ons leerlinge om uit te hou en om dankbaar te wees vir die gawes wat hul ontvang het. Dissipline, respek, selfbeheersing en spanwerk ontwikkel baie op die sportveld,” verduidelik sy.
Janine hanteer die logistiek en veiligheid van sportbyeenkomste op ‘n gestruktureerde wyse. “Lysies! Ek glo aan struktuur en is mal daaroor om dinge te organiseer. Dit help ook om ‘n netwerk op te bou en gebruik te maak van mense wat reeds betrokke was.” Sy beklemtoon ook die belangrikheid om kalm te bly wanneer ‘n uitdaging opduik.
Janine se visie vir die toekoms van sport by die skool sluit meer deelname van leerlinge en die uitbreiding van gevestigde sportsoorte in. “Met ons kleiner groep leerlinge in die hoërskool is dit soms moeilik om te veel sportsoorte aan te bied. Tans fokus ons op dit wat ons goed kan doen, om dit nog beter te doen.”
Die hoërskool het ‘n vol sportkalender met verskeie byeenkomste en toernooie wat insluit sagtebal, netbal, jukskei, fietsry en gholf. “Ons sien baie uit na die geleenthede wat jukskei en sagtebal die seisoen gaan bied.”
Die afgelope jaar het die skool se sportspanne goed gevaar. “Op die atletiekveld was daar baie goeie prestasies en die leerlinge het hulself uitgedaag om hul persoonlike beste te verbeter. Ons tafeltennis-span het ‘n professionele afrigter gekry. Dit het tot gevolg gehad dat die span 5de in die liga geëindig het. GSDP se 0/19A en 0/15A netbalspanne het onderskeidelik 3de in hul liga geëindig.”
Die skool doen moeite om goeie afrigters aan te stel wat die leerlinge toerus in die fynere kunsies van die sportsoorte. Ten spyte van die feit dat daar beperkte spasie is, het die skool belê in ‘n pragtige sagtebalbaan asook moderne goed toegeruste “astro” of multifunksionele sportbane. Hierdie bane word ook na ure deur die gemeenskap gebruik om netbal te speel. Die skool spog ook met goed toegeruste jukskeibane.
GSDP is ‘n ouerskool, ouers is dus waar moontlik betrokke by die sport, hetsy met afrig, aanry, aanmoedig of help met organisering. Goeie samewerking geskied egter net as daar goeie kommunikasie is. Ons hou ons oor op die grond en slaan ag op hul positiewe voorstelle.
Die sportprogram by Gereformeerde Skool Dirk Postma is op ‘n stewige grondslag gebou wat fokus op goeie voorbereiding, dissipline en ‘n gefokusde beandering, nie op die wen nie, maar op die ontwikkeling van elkeen se besondere gawes. Janine Heykens se passie en toewyding is duidelik in haar benadering en visie vir die toekoms van sport by die skool.