As nuutverkose voorsitter van Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) vanaf 2024, is een van Mnr. Klaas Pouwels se eerste prioriteite om die rol en werksaamhede van die bestuur (of beheerliggaam) korrek te verstaan en uit te voer. “’n Sterk bestuurspan ondersteun my in hierdie taak,” sê Pouwels. Een van sy hoofdoelwitte hierdie jaar is om die skool se getalle met gereformeerde kinders te laat groei, meer lede en vriende te werf, die begroting te laat klop, en seker te maak dat die beleide en reglemente in orde is. Hy wil ook verseker dat die hoof en haar bestuurspan ondersteuning kry sodat hulle hul werk na die beste van hul vermoë kan doen en die kosbare kinders gereformeerd kan opvoed.

Die skoolbestuur werk baie nou saam met die skoolhoof en onderwysers om die skool se missie en visie te bereik. Pouwels verduidelik: “Ons werk deur baie noue samewerking, gereelde kontak en persoonlike huisbesoeke by elke onderwyser. Die skoolhoof woon elke bestuursvergadering by en gee tydens die vergaderings deeglike terugvoer oor elke element van die kleuter-, laer- en hoërskool.”

Oor die afgelope paar jaar het die skool se grootste prestasies die hand van die Here weerspieël, volgens Pouwels. “Ons staan verwonderd oor die feit dat die Here oor die afgelope jare die skool in sy hand hou en ondanks feilbare mense die werk van alle betrokkenes se hande seën. Ons sien dit in alumni wat hul kinders weer kom inskryf, ons sien dit in goeie uitslae, en ons sien dit in die uitbreiding van ons fasiliteite. Ons is ook bevoorreg om 2024 te kon afskop met ‘n bevoegde en toegewyde nuwe hoof. Mevrou Saskia Meijer het in die eerste paar maande reeds ‘n groot positiewe verskil gemaak in hoe die skool se dag-tot-dag sake bestuur en gelei word. Ons is baie dankbaar dat ‘n groot finansiële skenking ook bydra tot meer finansiële rustigheid.”

Uitdagings is meestal ook goeie groeigeleenthede, sê Pouwels. Een van die grootste uitdagings wat die skool tans in die gesig staar, is om planne te maak om te verseker dat die skool nie net langtermyn finansieel volhoubaar is nie, maar ook goeie groei kan toon sonder om van die gereformeerde karakter, konstitusie en beleide af te wyk.

Om die skool se infrastruktuur en fasiliteite in goeie toestand te hou, begroot die skool jaarliks daarvoor. “Ons het ‘n aangewese kommissie binne die bestuur wat spesifiek na hierdie sake kyk asook ‘n voltydse faktotum in diens.” sê Pouwels.

Die strategie om ouers en die breër gemeenskap meer betrokke te kry by die skool, is deur kommunikasie. “Kommunikasie, kommunikasie en kommunikasie – en seker te maak dat die regte kommunikasie op die regte manier by die regte teikengroepe uitkom. Dit is ook een van die hoofredes waarom ons Edge Communications aangestel het om ons met hierdie baie belangrike element van die skool te help,” verduidelik hy.

Dissiplinêre kwessies en die handhawing van skoolreëls en -beleid word hanteer deur die kinders te vorm om gewillige volgelinge van Christus te wil wees. “Om dit te kan bereik, laat ons ons lei deur die beginsels en eise wat in die Skrif neergelê is. Kinders in ‘n Gereformeerde Skool is ook sondig en doen ook verkeerde dinge. Ons moet as volwassenes, tuis en by die skool, daarom ywer om hulle te vorm. Deur vir die kinders grense te stel d.m.v. skoolreëls asook strafmaatreëls vir wangedrag, word ‘n geborge omgewing geskep waarbinne hulle kan floreer.”

Die skool werk tans aan nuwe projekte en programme om die leeromgewing te verbeter. “Die grondslagfase onderwysers werk hard om ‘n Engelse kurrikulum as tweede taal te skryf. Ons werk ook aan ‘n nuwe kerkgeskiedeniskurrikulum en handboek, wat in samewerking met ds. Pieter Boon en sy talentvolle vrou Jenny Boon gedoen word. Ons het ook die groot stap geneem om oor te skakel na IEB (Independent Exam Board). Ons doen steeds die voorgeskrewe kurrikulum, maar word deur ‘n onafhanklike eksamenraad geassesseer,” sê Pouwels.

Mnr. Pouwels se langtermynvisie vir die skool is om te verseker dat die skool hoë kwaliteit gereformeerde onderwys bekostigbaar kan aanbied. “My langtermynvisie is om te verseker dat die skool kan voortgaan om hoe kwaliteit gereformeerde onderwys bekostigbaar te kan aanbied – eerstens binne in die gemeenskap waar ons woonagtig is, maar hopelik baie breër in die toekoms. Breër sou kon bestaan uit addisionele skole in ander areas of gemeenskappe wat ons stelsels, beleide, kurrikulum ens. sou kon gebruik, of alternatiewelik die stigting van gereformeerde ‘online schooling’ wat kinders enige plek in Suid-Afrika of selfs daarbuite kan bedien.”

Die skool monitor akademiese prestasie deur knap departementshoofde in elke fase, vanaf die kleuterskool tot matriek, wat oor die akademiese kwaliteit waak. “Vanaf die bestuur het ons ‘n komitee wat waak oor die gereformeerde karakter. Uitnemende akademiese standaard en gereformeerde karakter moet integreer. Verder het ons ook oorgegaan na IEB. Hulle bied opleidingsgeleenthede van baie hoë standaard aan. Die personeel woon ook voortdurend interne werkswinkels asook jaarlikse seminare by,” verduidelik Pouwels.

Tegnologie speel ‘n ondersteunende rol in die skool se leeromgewing. “GSDP is nie een van die voorloper skole in terme van die gebruik van tegnologie nie, nie omrede ons noodwendig teen die gebruik daarvan is nie, maar meer as gevolg van die kostes rondom die implementering daarvan. Die hele skool het ‘n uitstekende internetstelsel, personeel sowel as hoërskoolleerders het hiertoe toegang, natuurlik vir opvoedkundige doeleindes. Elke klas is ook goed toegerus met projektors en ander tegnologiese apparaat om die onderrig te vergemaklik. By GSDP is dit belangrik dat tegnologie die leeromgewing moet ondersteun en nie die primêre leermedium moet wees nie. Ons maak ook gebruik van kommunikasie- en administrasiestelsels soos D6 wat bydra tot die effektiewe bestuur van die skool,” sê hy.

By GSDP is Christelike waardes en beginsels in die daaglikse skoolaktiwiteite en kurrikulum geïntegreer. “Ons personeel begin elke dag saam in die personeelkamer met Skriflesing, gebed en die sing van ‘n Psalm. Personeel is ook verplig om elke tweede Woensdag ‘n sessie by te woon wat fokus op die uitbou van gereformeerde karakter. Vanjaar doen ons ‘n kursus genaamd Boustene vir Normatiewe Christelike Onderwys. Die personeel is toegerus om alle vakmateriaal vanuit die Woord van die Here te belig. In die Laerskool gebruik ons die Waterstroom kurrikulum wat voldoen aan al die KABV vereistes en ook meer bied. Die kinders word begelei om aan die hand van drie hoofwaardes, naamlik Godsaanskouing, mensbeskouing en skeppingsbeskouing, ‘n christelike lewens- en wêreldvisie te vorm. Op die kultuur- en sportveld word kinders ook begelei om hul gawes tot eer van die Here en tot heil van hul naaste te ontplooi,” verduidelik Pouwels.

Met Mnr. Klaas Pouwels se visie en leierskap, sien die Gereformeerde Skool Dirk Postma ‘n toekoms vol belofte en vooruitsig.