Mev. Riekie Smit het al meer as 13 jaar die leiding oor die Laerskool se koerant, Dirkiedinge, en het ‘n enorme impak gemaak op die skoolgemeenskap. Onder haar toesig het Dirkiedinge gegroei van ‘n droom van ‘n joernalis in graad 3 tot ‘n geliefde en invloedryke platform vir die leerders om hul stemme te laat hoor.
Die koerant, wat êrens in 2011 onder leiding van Marisha Hermann begin het, het as ‘n passieprojek begin. Hermann, wat destyds in graad 3 was, het die visie gehad om ‘n skoolkoerant te skep. Sy het berigte geskryf en haar maatjies gemotiveer om ook by te dra. Die koerant se slagspreuk, “‘n Koerant vir kinders – deur kinders,” weerspieël die doel om nuus en gebeure in en om die skool te deel, terwyl dit ook op opvoeding en vermaak fokus.
Mev. Smit verduidelik dat artikels en inhoud vir Dirkiedinge in twee uitgawes per jaar saamgestel word. Die redaksielede kom self met idees oor waaroor hulle wil skryf, en soms word spesifieke skrywers genader om oor spesifieke gebeurtenisse te berig, soos wanneer ‘n bekende skrywer die skool besoek of tydens uitstappies.
Die produksie van die koerant is egter nie sonder uitdagings nie. Mev. Smit en haar span probeer om die redaksie te onderrig om die Publisher-program self te gebruik, maar onderbrekings in krag of internet kan dikwels probleme veroorsaak. “Saktyd, wat saamval met eksamenvraestelle, bring dikwels ‘n paar gekners van tande.”
Om die betrokkenheid van leerders te bevorder, bemark die koerant meestal homself, maar indien belangstelling laer is, sal taalonderwysers leerders identifiseer en aanmoedig om aan te sluit. Tans bestaan die redaksie uit 26 lede. “Die koerant het al van tyd tot tyd projekte geloods, soos die insameling van fietse vir ‘n kinderhuis in Reddersburg en plastiekdoppies vir rolstoele,” vertel mev. Smit.
Wat die redigerings- en korrektuurproses behels, probeer mev. Smit om artikels so outentiek moontlik te hou, maar taalonderwysers doen basiese taalredigering om seker te maak dat die finale produk akkuraat en leesbaar is. Die koerant werk ook saam met ander skoolaktiwiteite, met baie redaksielede wat betrokke is by buitemuurse aktiwiteite en verslag doen oor daardie gebeure.
Mev. Smit glo vas in die belangrikheid van ‘n skoolkoerant. “Dit is ‘n kreatiewe manier om die hele skoolgemeenskap bloot te stel aan wat by die skool en sy leerders gebeur. Dit bevorder nie net die skool se beeld nie, maar help leerders ook om vaardighede soos waarnemingsvermoë, hardwerkendheid en verantwoordelikheid te ontwikkel.”
Oor die jare het die koerant se inhoud en styl verander, met ‘n toenemende klem op die verantwoordelikheid van leerders. “Daar is oud-redaksielede wat reeds in joernalistiek afgestudeer het, terwyl ander hulle skryf- en redigeervaardighede in hul beroep as onderwyser, regsgeleerdes en grafiese ontwerpers gebruik.”
Die koerant se mees gewilde rubriek is die pretblad en kompetisies. “My gunsteling deel van die koerant om te produseer is die uniekheid van elke redaksielid. Ek waardeer die kreatiwiteit wat die leerders bring en wat die Here vir hulle gegee het.”
Mev. Riekie Smit se toewyding aan Dirkiedinge en haar passie vir onderwys is duidelik. Haar bydrae het nie net die koerant se sukses bevorder nie, maar ook die vaardighede en betrokkenheid van talle leerders in joernalistiek en kommunikasie versterk.